Swaargewigte proe by Veritas
2009-09-10
NA byna twee dekades het die Veritas-toekennings sy reputasie as Suid-Afrika se mees outoritêre en geloofwaardige kompetisie vir markklaar wyne dubbel en dwars verdien. Vanaf 31 Augustus tot 4 September is 1 728 wyne by die Nederburg Veilingskompleks geproe deur 105 wynkundiges, insluitend vier internasionale beoordelaars van formaat, wynmakers, navorsers, akademici, wynjoernaliste en -konsultante. Die wenners word 10 Oktober aangekondig. Volgens die voorsitter van die SA Nasionale Wynskou Vereniging, Duimpie Bayly, is die integriteit van die Veritas beoordelaars onbetwisbaar en word die beoordelingsproses deur onafhanklike ouditeure gewaarmerk. Sauvignon Blanc het Shiraz, wat vir die laaste sewe jaar vir die meeste inskrywings gesorg het, verbygesteek en spog vanjaar met nie minder nie as 206 inskrywings, terwyl Shiraz slegs ’n kortkop agter is met 203 en Cabernet Sauvignon met 162. Ten einde die kompetisie se onpartydige beoordelingsproses te versterk, asook om te verseker dat die kompetisie voortdurend internasionale erkenning geniet, is daar vanjaar weer eens vier hoogsaangeskrewe internasionale wynkenners op die beoordelaarspaneel. Die buitelandse afvaardiging sluit in Australië se Ian McKenzie; Thomas Lüber, hoofaankoper by die wêreld se grootste direkte wynverkopemaatskappy, WIV Wein International met sy hoofkantoor in Duitsland; Lynne Sheriff, ondervoorsitter van die Masters of Wine (MW); en Anders Barren van Swede.
More
News
|