DIE legendariese digter Breyten Breytenbach se sewentigste verjaardag word op 16 September deur verskeie programme by die Breytenbach-sentrum op Wellington gevier.
Breyten se nuutste bundel, Oorblyfsel/Voice Over, sal op dié dag in die sentrum se teaterkafee, Die Bôrdienghuis, bekend gestel word deur die bekende akademikus, Louise Viljoen, en digter, Charl-Pierre Naudé. Dié bundel noem hy ’n “collage”, getransformeerde ‘variasies’ van die werk van die Palestynse digter Magmoed Darwish, ’n vriend van Breyten.
“Onmiddellik ná sy sterfte het ek hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom”, skryf Breyten.
) Die publiek kan verder uitsien na ’n vertoning van Buckfever Underground en die Nederlandse sangeres, Leine, op 17 September in die Bôrdienghuis-teater om 20:00. Kaartjies is R50.
) Saterdag 19 September bied die sentrum in samewerking met die ALV en die US Departement Afrikaans en Nederlands ’n dagseminaar aan waar bydraes tot ’n spesiale Tydskrif vir Letterkunde-uitgawe oor Breyten se werke referate sal lewer. Ampie Coetzee, Willem Anker, Willie Burger, Helize van Vuuren, Heilna du Plooy en Herman Giliomee is van die sprekers.
Kort dokumentêre films deur Cloete Breytenbach oor Breyten in gesprek met Koos Kombuis, André P Brink en Ampie Coetzee, asook ’n gesprek met Breyten in Katalonië, sal deel uitmaak van dié dagseminaar. Cloete Breytenbach se bekende Distrik Ses-werke sal ook in die sentrum te sien wees.
Die Breyten-vieringe sluit op Saterdagaand 19 September in die Bôrdienghuis-teater af met ’n woordkunsproduksie wat deur Juanita Swanepoel saamgestel is.
Teen die agtergrond van Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert se musiek, sal digters Zandra Bezuidenhout, Anne-Greth Erasmus en Joan Hambidge hulle gedigte voorlees, terwyl Johan Nel, Waldimar Schultz en Eugenie Wiggins voordra. Kaartjies is R80.
Vir verdere inligting en besprekings, skakel die Breytenbach-sentrum by 021-873-2786, theokemp@breytenbachsentrum.co.za of besoek www.breytenbachsentrum.co.za.