O.20’s verloor in finaal
2009-09-10
DIE o.20-rugbyspan van Paarl Rugbyklub was vanjaar die span om te klop ná hul onoorwonne groepwedstryde.
Ongelukkig het hulle uiteindelik, teen alle verwagtinge, die knie in die finaal gebuig teen ’n begeesterde Ikey-span. Die span van die Universiteit van Kaapstad, vir wie Paarl reeds vroeër vanjaar geklop het, het verlede Saterdag, op Hoërskool Gimnasium se velde, vir Paarl met 24-23 geklop. Eintlik was dit ’n baie interessante en spannende wedstryd, wat die Paarl-span net sowel kon gewen het. Ikeys het met ’n sterk span opgedaag wat heeltemal verskil het van die span teen wie Paarl aan die begin van die seisoen gewen het. Ikeys was gou voor met 19-0. Om sake verder te bemoeilik was een van Paarl se voorspelers kort na dié drieë met ’n rooikaart van die veld gestuur weens ’n gevaarlike duikslag. Paarl se oorblywende 14 man het egter heldhaftig begin terugveg en ná drieë deur Michael Dammeart (slot), Micheal Robertson (flank) en Martin Barnard (vleuel), asook twee doelskoppe en ’n strafdoel deur Louis Schlechter (losskakel), was Paarl se span tot twee minute voor die einde met 23-19 voor. Ikeys het egter tydens die laaste tien minute verwoed aangeval en in die doodsnikke gaan druk, in omstandighede waar die skeidsregter net sowel ’n strafskop aan Paarl kon gee weens obstruktiewe hardlooplyne. Om te kla help egter nie en die spelers sien reeds na volgende jaar se kompetisie, aangesien meeste van hulle teeds o.20 sal wees. Die bestuur hoop egter dat meer jong spelers uit plaaslike skole by die klub sal aansluit.
More
News
|