Paarl is naaswenners in liga
2009-09-10
DIE Paarl Rugbyklub het Saterdag vir Elsiesrivier, op hul tuisveld, met 39-27 geklop en sodoende verseker dat die span tweede in WP se Premier A-kompetisie eindig. Paarl se voorhoede het gou die oorhand verkry en die eerste punte is behaal toe Lionel Hugo (agsteman) die bal na ’n oorstootskrum toegeval het. Drieë deur Renier Bester (senter), Bradley Sias (vleuel) en Jonathan Verhoog (vleuel) het die gevoel laat ontstaan dat Paarl sou weghol met die telling teen die tuisspan. Ná rustyd het Bester weer gaan druk, gevolg deur Edwin Conradie (flank) wat in sy laaste wedstryd vir Paarl ’n bal op die halflyn afgestorm het, dit opgepik het en deurgehardloop het vir nóg ’n vyfpunter. Clive Samuel (losskakel) het die ander punte met ’n skepdoel en drie vervyfskoppe behaal. Ná Conradie se drie het Paarl ophou speel en toegelaat dat Elsiesrivier vier drieë na mekaar behaal. Paarl II het 12-20 verloor en Paarl III het met 20-9 geseëvier om gekroon te word as die kompetisie-wenners in hul afdeling.
More
News
|