Spanning in uitkloprugby
2009-09-10
NET soos toetsrugby, is uitkloprugby nie aldag aanskoulik nie, maar dit is hard en spannend, met wedstryde wat dikwels in ekstra speeltyd beslis word. Die eerste ronde van die Paarlstreek uitkloptoernooi het uitstekende rugby opgelewer met ’n naelbyt-einde. Laer Paarl moes wag vir beseringstyd voordat hulle die knoop teen Windmeul United kon deurhaak. Die eindtelling was 29-26. Young Standards moes self hard swoeg vir hul 18-10 oorwinning oor Young Gardens. Die liga-kampioen, Riverstones, het behoorlik klippe gekou voordat hul Violets tot oorgawe kon dwing. Die eindtelling was 10-5 vir Riverstones. Allandale het egter op hul beurt min moeite ondervind om vir Simondium met 25-10 te verslaan. Die tweede spanwedstryde was selfs meer spannend en die verskil in wenpunte was in geen wedstryd meer as drie punte nie. Simondium klop Windmeul 19-17, Pêrel United klop Laer Paarl 27-24, Violets verras die 2009 liga-kampioen, Young Gardens, met 6-3 en Riverstones klop Young Standards in ’n valbyl-ronde (sudden death) met 10-7. In die derde spanwedstryde het Young Standards vir Violets 19-5 geklop, Laer Paarl het 18-17 gewen teen Windmeul United, Young Gardens klop Pêrel United 10-8 en Riverstones trap Simondium 24-0.
More
News
|