Haaie verniel Wynboere
2009-09-10
Jaco van Wyk
VERLEDE Vrydag het die Kavaliers hul moses weereens teëgekom - dié keer teen ’n begeesterde span Natalse Haaie, wat hul tande behoorlik ingesink het in die vleis van die Wynboere. Die Kavaliers is met 48-3 geslag op hul eie tuisveld. Met dié nederlaag, die Kavaliers se agtste loesing van die Curriebekerseisoen, het die president van die Boland rugby-unie, Francois Davids, noodgedwonge hulp ontbied in die vorm van die oud-Springbokvleuel, Chester Williams. Die verwagting is dat Williams, as direkteur van afrigting, ’n haas uit die hoed sal probeer pluk om die Bolandse span terug op die wenpad te kry. Met slegs vyf wedstryde oor, veg die Kavaliers egter nie meer vir die Curriebekertitel nie, maar veg hulle eerder ’n oorlewingstryd. Williams, wat oor Curriebeker-, Super 14- en nasionale- (SA Sewes en Opkomende Bokke) ondervinding beskik, sal met ope arms in die Boland verwelkom word, aangesien die Kavaliers se volgende doelwit sal wees om relegasie vry te spring aan die einde van die seisoen, wanneer die onderste twee spanne in die Curriebeker Premierliga te staan sal kom teen die twee top-spanne van die Curriebeker Eersteliga. Die wenners van dié wedstryde sal volgende jaar Curriebeker-diens doen.
* Vir amper ’n kwart van Saterdag se stryd teen die Haaie, het die Kavaliers, op die Boland-stadion, die Curriebeker voorlopers deeglik in toom gehou. Dit is egter so goed soos dit vir Boland gegaan het op dié dag, met die besoekers wat uiteindelik agt onbeantwoorde drieë ingeryg het om die Kavaliers met 48-3 te sink. Met die rustydtelling 19-3, was die Haaie reeds gemaklik op pad na ’n oorwinning oor die span wat tans die laaste posisie op die Curriebeker-punteleer beklee. Die Kavaliers, wat vanjaar nog net met die Luiperds kon afreken, in hul eerste wedstryd van die seisoen, het hier en daar gewys dat hulle vir ’n slag weer die bal na die vleuels wil speel. Die Haaie, met die hardwerkende Jacques Botes wat die doellyn altesaam drie keer oorsteek het, was egter slaggereed vir enigiets wat die Wellingtonners na hul kant toe sou gooi. Aan die besoekers se kant was Botes seker die grootste uitblinker op die dag, terwyl die veteraan-heelagter Stefan Terblanche, wie se provinsiale loopbaan hoeka in 1994 by die Kavaliers begin het, die tuisspan gereeld oorhoops gehad het met sy gevaarlike aanvalle. Vir die Kavaliers het die losskakel Elgar Watts deurgaans hard probeer om die Haaie se verdediging te vlek. Watts se skakelmaat, Charlie King, het op sy beurt heel tuis gelyk op skrumskakel, nadat hy verlede week nader getrek is weens beserings aan die eerste keuses op nommer nege, Marnus Hugo en Danie van der Merwe. Puntemakers vir die Boland Kavaliers was Elgar Watts met een strafdoel. Vir die Haaie het Jacques Botes (3 drieë), Keegan Daniel, Craig Burden, Charl McLeod, Lwazi Mvovo en Monty Dumond drieë gedruk, terwyl Juan Hernandez (3 doelskoppe) en Riaan Swanepoel vir die doelskoppe gesorg het.
* Môre (11 September) pak die Boland Kavaliers vir Griekwas op die Boland-stadion om 15:30.
More
News
|