SATERDAG 29 Augustus het die orkes van die Boland Boeremusiekgilde op die sypaadjie voor my besigheid Musik-lood, musiek gemaak om die Gilde en dus ook die saak waarvoor hulle staan, naamlik Boeremusiek, te bevorder.
Ek was heel ten gunste hiervan en het hulle van elektrisiteit voorsien vir hulle apparaat. Die musiek het uit die aard van die saak baie aandag getrek en die verbygangers se breë glimlagge het getuig dat almal die musiek geniet- tot so skuins voor 12:00.
Uit die bloute het nie een nie, maar vier munisipale “polisiebeamptes” op die toneel verskyn.
Tot almal se stomme verbasing het een van hulle die leier van die Gilde eenkant geroep en met hom in gesprek verkeer.
Aan sy beduiery na sy naambordjie voor sy bors en beduiery na die groepie musikante, kon almal sien hier is ’n probleem.
By navraag het die heer gesê dat die sypaadjie aan die munisipaliteit behoort en as die mense wil musiek maak, moet hulle ’n permit hê daarvoor! Die orkes het opgepak tot my groot ontsteltenis.
Daar is geen wet verbreek nie, die sypaadjies was oop vir voetgangers, daar is nie geraas of rommel gestrooi nie, geen verkeer is ontwrig nie en vier beamptes vind dit nodig om ’n groepie mense te stop wat ander vermaak. Dít terwyl die arboretum en soveel ander brandpunte geen wetstoepassers sien nie.
Ek hoop dat hier nie ’n politieke geurtjie in die lug was nie. Dit was immers Boeremusiek en die musikante almal van ’n sekere kleur.
Lood Terblanché
May Carolissen, skakelpersoon van die Munisipaliteit, reageer: Ingevolge die Geraasbeheerregulasies moet opelug-musiekmakers vooraf skriftelike toestemming van die owerheid kry.