Polisie was traag om klag oor roof te aanvaar 2009-09-17
NADAT my selfoon deur ’n messwaaiende skolier naby Mbekweni van my gesteel is (soos verlede week berig), het dit vir my drie dae geneem om ’n klag van roof by die polisiestasie te lê.
Ek het met my eie speurwerk die jong misdadiger opgespoor, maar die polisie wou eers niks weet nie.
Eers moes ek al die besonderhede van die selfoon in die hande kry voordat hulle ’n klag sou aanvaar.
Toe ek weer by die stasie kom, was die offisier wat die vorige dag vir my gehelp het, nie daar nie en niemand wou my help nie.
En die derde keer wat ek terug is, wou nog ’n polisie-offisier nie die klag aanvaar nie. Ná ’n lang gesukkel het ’n ander offisier ingetree en vir my gehelp.
As dit nie was vir my vasberadenheid om ’n klag van roof aanhangig te maak nie, sou die minderjarige dief nooit deur die polisie vasgevat gewees het nie.