Padwoede steek weer kop uit
2009-09-17
PADWOEDE het onlangs weer vlamgevat in die Paarl, toe ’n man ernstig beseer is tydens so ’n aanval. Volgens ooggetuies het ’n motor op ’n Vrydag ’n ander motor helder oordag van die pad afgetrek in Jan van Riebeeckrylaan voor Paarl Motors. Twee mans het uit die voorste voertuig geklim en na bewering die twee jong mans in die ander motor gekonfronteer. Die mans het aan mekaar geruk en gepluk, en met dié het humeure opgevlam. Een van die ouer mans het na bewering ’n skerp voorwerp wat soos ’n groot skroewedraaier gelyk het in sy motor gaan haal en probeer om een van die jonger mans daarmee te steek. Toe hy op die grond val, is daar herhaaldelik op sy gesig getrap, so erg dat hy sy bewussyn verloor het. ’n Wetstoepassingsvoertuig het toevallig op die toneel aangekom en hulle het die hulp van die polisie ingeroep. William Cameron van Brackenfell is na die Paarl Hospitaal geneem en behandel vir kopbeserings, maar is later ontslaan. Geen klag is tans ingedien by die Paarl Polisie in verband met die voorval nie. In Julie het ’n soortgelyke voorval plaasgevind in Westhovenstraat, toe ’n man ’n motor afgetrek het wie se bestuurder vir hom gewys het dat hy na bewering ’n rooilig verontagsaam het. Hier het die bloed ook gevloei.
More
News
|