Brand tref skool
2009-09-17
Lise Beyers
LEERDERS van WA Joubert Laerskool was Maandagoggend steeds besig om die slaap uit hul oë te vee, toe ’n brand in een van die klaskamers uitgebreek het. Die skool het op dié oggend oudergewoonte die week begin met ’n saalbyeenkoms. Toe leerders egter hierna op pad was na die skoolgebou, kon hulle rook sien borrel vanuit ’n klaskamer. Die brandweer is dadelik gekontak en ’n noodalarm is geaktiveer om al die leerders en personeel na die rugbyveld te lei. Waarnemende skoolhoof Franz Waso, het die brandweer geloof vir hul flink optrede. “Dit was skaars twee minute nadat ons vir hulle geskakel het, toe is die rooi waens reeds op ons perseel. Hulle het dadelik leiding geneem en die brand is vinnig geblus.” Op die rugbyveld is daar deur die register gegaan om seker te maak dat al die leerders veilig was. Almal was inderdaad daar, maar ’n handjievol leerders is so erg geskok deur die voorval, dat hulle vir mediese behandeling geneem moes word. Een seun het ’n asma-aanval gekry. “Maar geen leerder was ooit in direkte gevaar weens die brand nie. Ons veiligheidsroetine het goed gewerk. “Die skade kan herstel word en ons leerders is ons eerste prioriteit.” Maar die brand was nie sonder skade nie. Die klaskamer (graad 7) waar dit ontstaan het, is so te sê in puin gelê. Die brand het vermoedelik agter die deur van die klaskamer ontstaan. Die deur is tot as verbrand, asook ’n rak langs die deur, met waardevolle dokumentasie daarop. Die plafon het ook begin brand. Die klasonderwyseres, Riëtte Jackson, het gesê dat sy lamgelê is deur die voorval. “Toe ons by die saal uitstap, kon ons hoor hoe breek die ruite in my klaskamer. Ek wou dadelik daarheen hardloop om my skootrekenaar en lêers te red, maar ek kon sien hoe die vlamme reeds rooi binne-in brand.” En toe die rook uiteindelik gaan lê het, het Jackson gesien hoe baie van haar harde werk vernietig is. “My skootrekenaar, vyf data stokkies en talle lêers met baie werk op is weg. Ek weet nie hoe ek nou gaan inhaal nie.” Daar is eers vermoed dat die brand mag ontstaan het weens ’n elektriese kortsluiting, maar forensiese deskundiges van die polisie en ’n snuffelhond is ingeroep om die klaskamer te fynkam vir leidrade. ’n Saak van brandstigting word tans deur die polisie ondersoek. * A fire caused chaos at a local primary school on Monday.
More
News
|