Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nou hoe nou, kritici?

Nou hoe nou, kritici?
 
2009-09-17

Jaco van Wyk

NÁ Saterdag se verowering van die Drienasies-rugbytitel, is die Springbok-afrigter Peter de Villiers se kritici hopelik nou bloedneus geslaan.
En hopelik kan dié Paarliet nou luidkeels kwyt raak net wat hy wil, want met die Drienasies-beker onder die een arm, en ’n sak vol rekords onder die ander, word De Villiers se praatwerk die hardste op die speelveld gedoen.

Met drie agtereenvolgende oorwinnings oor die magtige All Blacks vanjaar en ’n reeks-sege oor die Britse en Ierse Leeus in Junie, wink die IRR se toekenning vir afrigter van die jaar vir die breier van die nommer een span in die wêreld.

Buiten vanjaar se sukses as nasionale afrigter, het De Villiers reeds verlede jaar, toe hy as Springbok-afrigter aangestel is, die rekordboeke herskryf.

Sy wenpersentasie as nasionale rugby-afrigter van Suid-Afrika vir 2008 en 2009 gesamentlik, is 73%, met altesaam 22 wedstryde gespeel, 16 gewen en 6 verloor. Dit maak van De Villiers die suksesvolste afrigter van die beroepsera sedert 1995.

Vanjaar was De Villiers se span egter nog net twee keer aan die verloorkant, in altesaam nege kragmetings, en spog die Bokke tans met ’n wenpersentasie van 78% vir 2009.

Om dié wenpersentasies in perspektief te plaas, is dit belangrik om daarop te let dat Suid-Afrika se twee suksesvolste afrigters in die beroepsera voor De Villiers, Nick Mallet en Jake White, onderskeidelik wenpersentasies van 71% en 66% gehad het.

Van die Bokke se vernaamste rekords onder De Villiers sluit rekordseges in oor Argentinië (63-9), Australië (53-8) en Engeland (42-6, die Rose se grootste loesing nog op Twickenham) verlede jaar.

Onder De Villiers se sweep, het die Bokke ook reeds vier keer afgereken met die gevreesde All Blacks, waarvan twee seges op Nieu-Seelandse bodem behaal is.

Boonop was beide dié Nieu-Seelandse weg-oorwinnings, een in Dunedin (30-28) verlede jaar en een in Hamilton (32-29) vanjaar, eerste oorwinnings op daardie spesifieke velde vir die Springbokke.

Met die ‘beste Bokspan van alle tye’ tot sy beskikking, volgens sommige kenners, lyk dit of Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers nog baie soortgelyke ervarings gaan beleef met Paarl se Peter de Villiers aan stuur van sake.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za