Kavaliers vertoon beter
2009-09-17
Jaco van Wyk
OPERASIE REGRUK gaan sekerlik nie oornag realiseer nie. Met ’n bietjie Springbok-hulp aan hul kant, in die vorm van die legendariese Chester Williams, wou dit egter verlede Vrydag teen Griekwas voorkom of die Boland Kavaliers ’n nuwe huppel in sy stap ontdek het. Die Wynboere het nou wel die knie gebuig met 23-31 op die Boland-stadion, maar met die besoekers geen maklike neut om te kraak nie, het Boland hul opponente by tye aan flarde gehardloop. Geduld is dus die wagwoord vir Boland-ondersteuners. Onthou bietjie die vernedering wat Boland ses weke gelede op Kimberley ervaar het, toe hulle met 7-80 teen die einste Griekwas-span verslaan is, dan word daar tans ’n belowende prentjie in Wellington geskets. Met die inspuiting van jong spelers soos Danré Gerber, seun van nóg ’n bok-legende Danie, en PJ Vermeulen in die middelveld, asook Hayden Groepes op heelagter, kon Elgar Watts sy lyn met selfvertroue wegstuur. Sodoende het die Kavaliers die Poubloues se kamma ‘ondeurdringbare’ verdediging telkemale moeiteloos oopgevlek. Veral Vermeulen was ’n derduiwel op die aanval. Hy is beslis een om stip dop te hou in die toekoms. Voorlangs was die grondslag deur die voorry neergelê. Die hervereniging van die stutte Jacobie Adriaanse en Janro van Niekerk, het saam met die haker Harry Vermaas die Kavaliers se skrum behoorlik geanker. Verder het die jong Junior Bester, ’n vyfster-vertoning op agtsteman gelewer, met David Hendricks wat op flank gewys het dat ervaring nie gekoop kan word nie. Wendal Wehr het ook met sy toetrede tot die speelveld ’n verskil gemaak. Die Kavaliers het op die aanval floreer, maar sal hard moet skaaf aan hul afronding en selfs harder aan hul verdediging. Die manne in swart sal vinnig moet leer dat een verbroude duikslag, een verbroude duikslag te veel is. Die Kavaliers se puntemakers was Junior Bester en Wendal Wehr, met een drie elk. Justin Peach het beide drieë verdoel en het ook geslaag met 3 strafdoele. ) Eerskomende Saterdag om 15:00 pak die Boland Kavaliers die Blou Bulle op Boland-stadion.
More
News
|