AS deel van die legendariese digter Breyten Breytenbach se sewentigste verjaardag wat op 16 September gevier is, bied die Breytenbach-sentrum op Wellington verskeie produksies aan om dié spesiale dag te vier.
Breyten se nuutste bundel, Oorblyfsel/Voice Over, is ook op dié dag bekend gestel.
* Die publiek kan uitsien na ’n vertoning van Buckfever Underground en die Nederlandse sangeres, Leine, vanaand in die Bôrdienghuis-teater om 20:00. Kaartjies is R50.
* Saterdag bied die sentrum in samewerking met die ALV en die US Departement Afrikaans en Nederlands ’n dagseminaar aan waar bydraes tot ’n spesiale Tydskrif vir Letterkunde-uitgawe oor Breyten se werke referate sal lewer. Ampie Coetzee, Willem Anker, Willie Burger, Helize van Vuuren, Heilna du Plooy en Herman Giliomee is van die sprekers.
Kort dokumentêre films deur Cloete Breytenbach oor Breyten in gesprek met Koos Kombuis, André P Brink en Ampie Coetzee, asook ’n gesprek met Breyten in Katalonië, sal deel uitmaak van dié dagseminaar. Cloete Breytenbach se bekende Distrik Ses-werke sal ook in die sentrum te sien wees.
Die Breyten-vieringe sluit Saterdagaand af met ’n woordkunsproduksie wat deur Juanita Swanepoel saamgestel is.
Kaartjies is R80.
Vir verdere inligting en besprekings, skakel die Breytenbach-sentrum by 021-873-2786 of theokemp@breyten bachsentrum.co.za of besoek gerus www.breytenbachsen trum.co. za.