PERDEBERG Wyne het uitsonderlike uitslae ontvang by die 2009 SA Jongwynskou.
Perdeberg het veertig wyne ingeskryf, waarvan sewe-en-dertig medaljes ontvang het. Dit beteken dat 92,5% van die wyne wat ingeskryf is, medaljes verwerf het.
Perdeberg het weggalop met agt goue-, sestien silwer- en dertien brons-medaljes, terwyl die Perdeberg Cabernet Franc ’n klaswenner was en aangewys is Kampioen Ander Rooi Kultivar-toekenning by die Paarl-skou.
“Ons is baie in ons skik dat Perdeberg Wynkelder die tweede meeste goue medaljes ontvang het by die Nasionale Jongwynskou 2009. Dit is ’n groot eer vir ons, aangesien 2 106 wyne ingeskryf het vir die Jongwynskou 2009,” het Riaan bygevoeg.
Perdeberg se wyne fokus daarop om die unieke aspekte van die Agter-Paarl-area in hul wyne te beklemtoon met verskillende eienskappe en geure weens die topografie.
Hul wyne wat goud ontvang het, is die Chenin Blanc/Sauvignon Blanc, Shiraz/Pinotage/Viogner, Cabernet Sauvignon/Merlot/Cabernet Franc (gehout), Shiraz/Mourvedre/Viogner (gehout), Shiraz, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc (gehout) en Petit Verdot (gehout).