Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fees met gees

Fees met gees
 
2009-09-23


ENIGE musiekliefhebber sal iets kry wat in sy smaak val met ’n keuse van gewilde popliedjies, immergroen rock-treffers, woordkuns, volksliedjies tot à capella en klassieke musiek by die Cultivaria-fees wat vandag afskop in die Paarl.

Die snare gaan beslis getokkel word tydens vanjaar se fees met van die land se top kitaarkunstenaars in aksie.

Chris Chameleon word deur twee klassieke kitare begelei tydens Voila, CH2 meng klassieke klanke met Latynse ritmes in hulle produksie The Orange Guitar, terwyl Mathys Roets, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotze saamspan met nuwe vertolkings van rock-treffers soos Hotel California in Ses Snare.

Mathys Roets bring vanjaar sy Masters of Song na Cultivaria en sal gehore vermaak met sy sielvolle weergawe van legendariese liedjies van onder andere Leonard Cohen en Koos du Plessis. Die beminde David Kramer is ook in aksie met ’n volle orkes in Trap die Planke.

Vir ’n meer klassieke inslag, bied Zorada Temmingh en Elna van der Merwe hulle klavierkuns in Blondes, Verdi en Lloyd Webber, terwyl Canticum Novum en die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes hoogtepunte uit die Messias van Händel opvoer.

Komediante

Sien ook van die land se beste komediante in aksie van vandag tot Sondag in die Paarl. Cultivaria bied komiese vermaak uit die boonste rakke om feesgangers in ’n ligte luim te bring.

Marion Holm is terug met Sussie se grootste treffers in Sussie: Cheers! en die immergewilde Karin Wessels beloof om gehore te laat skater met die terugkeer van Groet die Grotvrou.

Rian van Heerden laat weereens geen heilige koeie in vrede nie tydens Siek en Saad, terwyl Eric Nobbs sy Cultivaria-buiging maak met die Langenhoven geïnspireerde solovertoning Doppers en Filistyne.

Lizz Meiring vermaak met ’n magiese fantasie in Vrou in die Maan en Boetman is terug met Boetman is Bedonnit II.

Cultivaria se feeskalender spog ook verder met produksies deur van die land se top vermaaklikheidsterre soos Nataniël, die Bala Broers, Coenie de Villiers, Rory Rootenberg, Mathys Roets, Chris Chameleon, Jak de Priester, Nianell, Dozi en David Kramer.

Die Liqui-Fruit kinderteater by La Rochelle se koshuis sorg vir pret vir die jongspan met lekker aktiwiteite en vertonings om hulle heeldag besig te hou.

Geniet heerlike eetgoed, wyne en lekker musiek by die Heinz Emporium by die Faurestraat-stadion. Toegang na die emporium word ingesluit by elke vertoningskaartjie, terwyl dagbesoekers R40 by die hekke betaal. Kaartjiesbesprekings kan gedoen word by www.cultivaria .com (slegs kredietkaartbetalings word aanvaar). Vir navrae, kontak 021-872-9754.

* The Cultivaria Festival which kicks off in Paarl today, brings famous singers and actors onto local stages.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za