Voorbereiding vir werkersmark
2009-09-23
Liezl Dyson
’n GROEP van tien jongmense, almal intellektueel gestrem, is besig om hulle te bekwaam as skoonmakers. Die groep tussen 18 en 35 jaar oud van die Siyanceda Nasionale Jeugsorgprogram, onder die bestuur van die Drakenstein Sentrum vir persone met gestremdhede, het die afgelope twee jaar opleiding ontvang om hul voor te berei vir die werkersmark. Die jeugsorgprogram word bestuur deur Training Work-shop Unlimited, ’n vaardigheid- en werksopleidingsprojek en word ondersteun deur die Kaapse Geestelike Gesondheidsgemeenskap. Die groep is opgelei deur Maré Smit, ’n arbeidsterapeut, en is vaardighede aangeleer soos hoe om skoon te maak, hoe om higiënies te wees en ander lewensvaardighede. Die vakleerlinge word ook geleer dat dit belangrik is om elke dag betyds te wees vir werk en om van publieke vervoer gebruik te maak. Hul opleiding word teen die einde van die jaar afgehandel, en Siyanceda Jeugsorgprogram doen ’n beroep op plaaslike besighede om van dié groep se dienste gebruik te maak en sodoende ’n inkomste vir hulle te skep. “Vir twee jaar het hulle opleiding ontvang en alles ingesit. Ek sal baie graag wil sien dat hulle die vrugte daarvan kan pluk, deur ’n inkomste vir hulself te verdien,” het Nabeelah Allie, hul werksafrigter, gesê. Die groep word ook deur haar gemonitor by hul onderskeie werksplekke. Volgens Allie het die groep as deel van hul prakties skoonmaakwerk gedoen by Hugenote Kollege, die Nagskuiling, Cummings Koshuis, Friedenheim Koshuis, Drakenstein Bewaarskool, Drakenstein-sentrum, Paarl Stimulasie-sentrum, by ’n kleuterskool en by Butterfly House. Indien besighede van hul dienste gebruik wil maak, kan hulle die Drakenstein-sentrum kontak by 021-863-0446.
More
News
|