PIEKNIEKLIEFHEBBERS kan hul mandjies begin pak vir die gewilde volmaanpieknieks by die Taalmonument op Paarlberg wat weer vanaf Oktobermaand ’n aanvang neem. Die monument is vanaf 1 Oktober weer daagliks oop tot 20:00 saans.
Die eerste geleentheid vind op Saterdag 3 Oktober van 17:00 tot 22:00 plaas. Dit is een dag voor die volmaan. Die son sak om 18:50 en die maan kom net voor sononder om 18:18 op.
Volmaanpieknieks vind ook op Saterdag 31 Oktober en Woensdag 2 Desember plaas.
Dié aandpieknieks het in die vorige somerseisoen ’n totaal van 1 500 piekniekgangers gelok.
Volgens Isabeau Botha, kommunikasiebestuurder van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, is die maandelikse volmaanpieknieks goed ondersteun deur plaaslike inwoners sowel as oorsese besoekers.
“Oud en jonk geniet dié aandpieknieks, omdat die monument se tuine en die uitsig vanaf die monument ’n perfekte omgewing vir ’n piekniek skep. Die uitsig is werklik asemrowend gedurende die dag, sowel as in die aand wanneer al die ligte by die monument afgeskakel is,” het Botha gesê.
“Die piekniekgeleenthede is bekostigbaar vir gesinne, omdat ons net die gewone toegangsgelde hef en besoekers hulle eie piekniekmandjies mag saambring. Die nuwe restaurant by die monument, Volksmond, bied ook aan mense die geleentheid om hul eie piekniekmandjie te kom saamstel vanaf hulle spyskaart – jy kan dus ’n mandjie pak wat jou sak pas.”
Vir meer inligting oor die piekniekspyskaart, skakel 084 626 2815 of stuur ’n e-pos na volksmond@taalmuseum.co.za.
Toegang is R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders). Onthou om ’n flitslig in te pak. Geen honde of vure word toegelaat nie.
Vir meer inligting, besoek www.taalmonument.co.za of skakel 021-872-3441.