LEERDERS van alle Wes-Kaapse skole kan inskryf vir ’n unieke tekenkompetisie wat een van die hoogtepunte sal wees van die Perd- en Wynfees wat op 15 November by die Nelson Wynlandgoed in die Agter-Paarl gehou word.
Volgens die hooforganiseerder van die fees, Alan Nelson, bied hierdie kompetisie nie net aan ons jeug die geleentheid om uiting aan hul kunstalente te gee nie, maar word hulle hierdeur opnuut bewus gemaak van die belang van ons land se perd- en wynerfenis.
Verskeie pryse is in verskillende ouderdomskategorieë te wen en die tema van die uitbeelding is ’n ruiter te perd wat oor ’n hindernis spring. Alle sketse moet in ’n swart op wit medium wees en op ’n A4-formaat grootte papier. Elke skets moet gemonteer wees op ’n swart agtergrond met ’n omraming van 40mm.
Daar is twee inskrywingskategorieë vir laerskole naamlik, kinders 7 tot 10 jaar en kinders 11 en 12 jaar. Vir hoërskole is daar ook twee kategorieë naamlik vir leerders in graad 8, 9 en 10 en die ander kategorie is vir leerders in graad 11 en 12.
Die sluitingsdatum is 21 Oktober en deelnemers moet hul name, die betrokke skool en die kategorie waarvoor dit bedoel is, vermeld. Pos dit na Tekenkompetisie, Posbus 2009, Windmeul, 7630.
Ter wille van blootstelling, sal ’n uitstalling van al die inskrywings vanaf Vrydag 13 tot Sondag 15 November in ’n groot lokaal op die landgoed te sien wees. Die aankondiging van die pryswenners en prysoorhandigings is op 15 November om 13:00 in die amfiteater.
Kontak Julie van der Merwe, by 082-378-6926.