’n INTERAKTIEWE installasiekunswerk, “Verdigting”, word aangebied op die grasperk oorkant die Paarl Stadsaal tydens vanjaar se Cultivariafees wat gehou word vanaf 23 tot 27 September.
Foto’s van Paarliete is verwerk tot silhoeëtte en dan aanmekaargesit in groepe. Daarna is die groepe lewensgroot uit bord gesny, regop laat staan op die grasperk en rooi geverf.
Die gemeenskap word genooi om die silhoeëtte te verander in hul eie skepping. Hulle word voorsien van papier en vetkryt om teksture af te vryf wat aanwesig is in die alledaagse Paarlse landskap. So kan iemand dalk sy papier om ’n boom vou en dan met die vetkryt ’n afdruk neem van die bas se tekstuur of ’n staal mangatdeksel of ’n plaak by ’n standbeeld of enige van duisende teksture. Hierdie papiere word dan teruggebring na die uitgesnyde silhoeëtte waar dit soos muurpapier oor die figure aangebring word. Sodoende verander die silhoeëtte die heeltyd deur laag op laag patina van teksture uit die omgewing opgebou te word.
Die mens is ’n versameling van sy ervarings en sy genetika, sę die kunstenaar, Theo Kleynhans. “Genetika bepaal hoe jy lyk, wat jou lyfvorm is en selfs waarvoor jy geskik is, maar jou omgewing het net soveel invloed op jou totale psige.”
Met dié projek word beoog om die feesgangers en die inwoners weer bewus te maak van hierdie spesifieke omgewing en ook omdat mens deur kuns gestimuleer word om dieper na te dink oor die lewe wil hierdie projek die psigiese verdigting van die kyker aanspreek terwyl hy deelneem aan die proses.