Paarl Evergreens deel louere
2009-09-23
‘N SKARE van bykans 3800 ondersteuners het Saterdag op Evergreens Park in Nieuwedrift ’n klipharde stryd aanskou toe die spanne van Evergreens Paarl en Windmeul United in hul jaarlikse derbywedstryd betrokke was. Rugby van hoogstaande gehalte was deur beide spanne opgedis, wat uiteindelik tot ’n gelykopuitslag van 16-16 gelei het. Tydens die eerste 20 minute van die wedstryd het Windmeul talle aanvalle geloods, maar die hegte verdediging van Evergreens het hulle verhoed om punte aan te teken. Ná goeie samespel deur Evergreens se voor- en agterspelers, het Evergreens se losskakel Kelvin Beffels ’n onverdoelde drie gedruk. Nadat Windmeul ’n strafdoel behaal het, het Evergreens talle aanvalle geloods wat gelei het tot ’n onverdoelde drie vir die sterk senter Kallie Jacobs. Windmeul het kort voor rustyd agter die pale gaan kuier vir ’n verdoelde vyfpunter, om die rustydtelling op 10 elk te staan te bring. Gedurende die tweede helfte het die jong skitterflank van Evergreens, Eugene Andries, met twee strafskoppe na die pale geslaag. Windmeul het egter ook met twee strafskoppe geslaag om die eindtelling tot 16-16 te bring. Aan Evergreens se kant het Dean Jacobs (heelagter) weereens beïndruk met sy aanvallende spel. Regardt Liebenberg (speler van die dag), Willem Cornelissen, Eugene Andries en Kallie Jacobs het ook ’n barshou gespeel. Volgens die voorsitter van Evergreens, Japie van Rooyen, het sy klub vanjaar ’n puik seisoen beleef. “Dié span behoort weer goeie rekenskap van hulself te gee volgende seisoen in die Premierliga van die Boland-unie.” In ander wedstryde het Evergreens se o.12’s 14-5 geseëvier oor Windmeul. Windmeul United se o.16’s het 17-10 gewen terwyl Evergreens se derdes 27-15 gewen het. Windmeul se veterane het met 17-13 geseëvier.
More
News
|