Laer Paarl verower Uitklop-titel
2009-09-23
IN ’n opwindende en spannende uitklopfinaal wat die afgelope naweek op die Daljosafat-sportvelde beslis is, het Laer Paarl vriend en vyand verras deur vir Riverstones met 10-8 te troef. Die wedstryd is teen ’n vinnige tempo gespeel en het by tye skitterende rugby opgelewer, met beide spanne wat bereid was om die bal lug te gee. Die eindtelling was tot in die laaste minuut in die weegskaal, met Riverstones wat die een aanval na die ander geloods het. Die goed-georganiseerde verdediging van Laer Paarl het egter verhoed dat Riverstones die wenpunte kon aanteken. Vir Laer Paarl het Donnie Fredericks ’n barshou gespeel en is tereg as die speler van die Uitkloptoernooi aangewys. Blues se puntemakers was Bronwill Kika (1 drie) en Cecil Thompson (2 strafdoele en 1 doelskop). In die plaatfinaal het Young Gardens in ’n taai kragmeting vir Violets met 19-12 verslaan. In die tweede span se bekerfinaal was Young Standards se span veels te sterk vir Simondium se tweedes. Standards het 31- 5 gewen. Laer Paarl se tweede span het die naasbestes van Young Gardens 19-11 in die plaatfinaal geklop. Young Standards het die derde span-bekerfinaal gewen deur Young Gardens III met 16-7 te troef, terwyl Violets III die derde span-plaatfinaal in ekstra tyd gewen het met 12-7 teen Pêrel United III. In die junior-wedstryde het die o.12-span van Riverstones vir Young Standards in die bekerfinaal met 20-10 geklop . Allandale se o.14-span het Windmeul met 24-0 kaf gedraf en in die o.16-afdeling het Riverstones 17-5 geseëvier oor Young Standards.
More
News
|