Sportster is ’n stoei-sensasie
2009-09-23
Jaco van Wyk
DIT is interessant hoe sommige van Suid-Afrika se voorste baljagters op die rugbyveld eens op ’n tyd hul boelie-werk op die stoeimat gedoen het. Vat maar ysters soos Heinrich Brussouw en Cobus Grobbelaar wat, ondanks hul ‘klein’ statuur volgens vandag se rugbystandaarde, as twee van die mees gevreesde oopkantflanke in wêreldrugby beskou word. Op 17-jarige ouderdom kan Beyers de Villiers verstaan waarom dié spelers so effektief is om opponerende spanne van balbesit te beroof, want Hoër Jongenskool se eerstespan agtsteman is self ’n handvol op die stoeimat. As onlangs-bekroonde Afrika-stoeikampioen, met die goue medalje wat hy in Julie losgestoei het in die o.85kg kadette-afdeling tydens die Afrika Kadette-kampioenskappe in Algerië, is Beyers dié maand die waardige wenner van Paarl Post en Supersport se Sportster van die Maand. Volgens Beyers is dit nie moeilik om ’n balans tussen rugby en stoei te handhaaf nie. “Die een sportsoort komplimenteer die ander een goed. Stoei help veral om nie bang te wees vir kontak op die rugbyveld nie. Op dieselfde manier help rugby mens weer op die stoeibaan,” sê Beyers. “Stoei help jou veral om stewig op jou voete te bly in kontaksituasies en dit is baie belangrik vir ’n losvoorspeler wat ’n losskrum betree.” Beyers, wat tans besig is om netjies in die voetspore van sy oupa te trap, sê dat hy aanvanklik begin stoei het omdat sy broer gestoei het. Vandag spog Beyers egter met elf SA medaljes wat hy sedert 2000 ingeryg het en pluk hy duidelik ook die vrugte daarvan op die rugbyveld. Beyers se broer, Coenraad junior (24), is ’n voormalige Protea-stoeier wat ook ’n Afrika-stoeikampioen geword het toe hy in 2006 ’n goue medalje verwerf het by die Afrika Stoeikwetenskap op Stellenbosch. Met hul oupa, Coenraad de Villiers senior (75), ’n Olimpiese stoeier in die 50’s en 60’s en volgens sy destydse opponente een van die beste stoeiers van sy tyd, is die De Villiers-broers in geen dwaal oor waarvandaan hul talente afkomstig is nie. Coenraad senior het vierde geëindig in die Melbourne Olimpiese Spele in 1956 en is vandag ’n boer op Upington.
More
News
|