Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hokkie-oorheersing

Hokkie-oorheersing
 
2009-09-23

Jaco van Wyk

DIE eerste seunshokkiespan van Hoërskool Hugenote het vanjaar die een pak slae na die ander uitgedeel om die hokkieseisoen van 2009 onoorwonne af te sluit in hul liga.

Die manne van Wellington het die seisoen op 21 Maart afgeskop met ’n 2-1 oorwinning oor Diamantveld, Kimberley, gevolg deur ’n 4-1 sege oor Tygerberg ’n week later.

Vanaf 3 tot 8 April het dié span deelgeneem aan die Vodacom sportweek op Stellenbosch, waartydens hulle as toernooi-wenners aangewys is nadat hulle skoonskip gemaak het. Hugenote het altesaam 20 doele tydens dié toernooi behaal, met slegs vier doele wat teen hulle aangeteken is.

Ná afloop van dié toernooi is Hugenote se kaptein, Jacques van Tonder, as die beste speler aangewys.

Op 18 April het Hugenote strawwe teenstand vanaf Parelvallei ontvang om met 1-1 gelykop te speel, waarna hulle twee agtereenvolgende oorwinnings in Mei behaal het oor Durbanville (2-1) en Drostdy (1-0).

Vanaf 27 Junie tot 8 Julie het Hugenote hul staal gaan toon op ’n Namibiese toer, waartydens hulle wéér as toernooiwenners gekroon is.

Met altesaam 16 doele in sewe wedstryde het Hugenote weereens vir hul opponente gaan wys hoe om die doelhok te laat raas.

Ondanks die feit dat Hugenote die doele ingeryg het, was dit op die verdediging waar dié span vir hul teenstanders totaal en al ore aangesit het. Die Hugenoters het nie ’n enkele doel afgestaan nie.

Teen Charlie Hofmeyer (Ceres) het Hugenote momentum verloor en kon hulle nie die uitklophou geplant kry nie, met ’n gelykop-uitslag tot gevolg.

In Augustus het ’n 2-1 oorwinning oor Strand die Hugenoters terug op die wenpad gekry.

Een van Hugenote se belangrikste seges van die seisoen was natuurlik die 2-1 oorwinning oor hul interskole-opponente, Hoërskool Swartland.

Hoewel Hugenote vanjaar nie ’n enkele liga-wedstryd prysgegee het nie, het hulle wel teen Hoërskool Gimnasium se eerste hokkiespan vasgeval in ’n vriendskaplike wedstryd op die Gimmies se astro-baan.

Toe dié span van Gim egter deur die Wellingtonners op gras aangedurf was, was die uitslag gelykop (0-0).

Hoewel Hugenote se hele span geprys kan word vir hul samespel wat die afgelope seisoen altesaam 51 doele tot gevolg gehad het, kan die doelwagter, Bertus Marais, saam met sy verdedigers uitgesonder word vir hul puik spel voor die doelhok. Slegs 11 doele kon teen Hugenote behaal word dié seisoen.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za