Peoples op koers
2005-08-25
DIE eerste span van Young Peoples Rugbyklub het Saterdag in Mitchells Plain sy hoop op bevordering lewendig gehou toe hy Silvertree 39-14 (15-0) geklop het.
Die tuisspan is aangevuur deur ’n opgesweepte tuisskare en het met mag en mening die besoekers aangevat. Dit was egter net ’n kwessie van tyd voordat Peoples beheer oorgeneem en die drieë begin inryg het.
Peoples se sewe drieë is deur Justin Fortuin, Barry Williams, Andrew Victor, Ceaser Martin, Kallie Jacobs, Japoe Josephs en Francois Maneul gedruk. Victor het twee doelskoppe behaal.
Peoples se lot is nou in sy eie hande omdat hy teen die voorlopers, Primrose, asook sy mededingers om bevordering, Albions en Valsbaai, op agtereenvolgende Saterdae speel.
* Die klub hou Saterdagaand vanaf 20:00 ’n funksie by Studio 54.
More
News
|