Albions trap Belhar
2005-08-25
DIE manne van Albions Rugbyklub het Saterdag nog ’n sege op hul kerfstok gesit toe hulle vir Belhar 27-18 op Daljosafat Stadion geklop het.
Die tuisspan het nie in die skrums oortuig nie, maar danksy die goeie leiding van kaptein, Roderick Allies (flank), was hulle nie oordonder nie.
In die lynstane was dit egter ’n ander storie, met Morné Goetham (slot) wat baie van die teenstanders se balle gewen het. Belhar ruik eerste bloed met ’n verdoelde drie.
Albions antwoord egter hierop toe die vleuel, Newin Dennis, teen die verloop van die spel in die hoek gaan druk.
Met Gerswin Paulse wat met die doelskop en daarna twee strafskoppe misluk, kry Jacques Hendricks geleentheid om na die pale te mik toe Elrico Pietersen sy drie gaan druk.
Hendricks se skop is in die kol en dit maak die rustydtelling 15-10 in die Paarliete se guns.
Albions het in die tweede helfte beter momentum begin opbou.
Alvin Hugo, Albions se blitsige vleuel, breek deur ’n gaping en nael 75m om in die hoek te gaan druk.
Hoewel die besoekers nader kruip danksy ’n strafskop, verseker Albions se Yulin Claasen (agsteman) die bonuspunt vir sy span met sy drie. Hendricks slaag met die doelskop.
Claasen se goeie spel in die los en vaste fasette gee hom dan ook die speler van die wedstryd-toekenning.
Albions II en III verloor 14-10 en 6-0.
More
News
|