Week vir bejaardes gevier
2009-10-01
Johan Nel
WELLINGTON se ouer inwoners word op die oomblik op groot skaal opnuut bewus gemaak van die uitgebreide dienste wat die ACVV spesiaal aan hulle kan bied as deel van die landwye vieringe van die week vir ouer persone wat tans aan die gang is. Die veldtog word gerëel deur die drie afdelings van die plaaslike ACVV op Wellington wat op die behoeftes van bejaardes op die dorp fokus en wat daarna streef om Wellington se bejaardes te help om optimaal te funksioneer. Die drie afdelings van die plaaslike ACVV is die Silwerkruin-sentrum vir bejaardes, die Fyngoud-dienssentrum vir bejaardes in Bainstraat en die Wellingtonse ACVV se afdeling vir maatskaplike dienste en gesinsorg. “Die Fyngoud-dienssentrum vir bejaardes se dienste is daarop gemik om ons senior burgers te help om onafhanklik te funksioneer en om ’n sinvolle lewe te lei. Solank bejaardes besig bly en die positiewe dinge om hulle raaksien, hoef oud word nie oud wees te beteken nie!” Die dienssentrum bied ’n uitgebreide program aan bejaardes van Wellington om hulle geestelik, maatskaplik en liggaamlik by te staan. Hierdie dienste sluit in middagetes op weeksdae, fiksheidsoefeninge, die meet van bloeddruk, noodsaaklike vervoer, kuns- en naaldwerkklasse, kaart- en bordspeletjies, uitstappies en opvoedkundige praatjies. Al hierdie dienste is beskikbaar teen ’n fooi van slegs R30 per jaar. By Silwerkruin word groepsaktiwiteite soos intellektuele stimulasie en die beoefening van handvaardighede weekliks aangebied. Die ACVV se afdeling vir maatskaplike dienste en gesinsorg help persone wat aansoek wil doen om in ’n tehuis opgeneem te word, met die voltooiing van die nodige aansoekvorms. Bejaardes wat van die ACVV op Wellington se dienste gebruik wil maak, kan 021-873-2204 skakel.
More
News
|