Tiere boelie Blues
2009-10-01
YOUNG PEOPLES het Saterdag die ondersteuners van Laer Paarl (Blues) se harte gebreek toe hulle dié jaarlikse derby-kragmeting met 26-3 gewen het op die Daljosafat-stadion. Peoples se swaarder voorspelers het die grondslag vir dié oorwinning gelê deur die manne van Blues swaar te laat leef in die vaste skrums en lynstane. Dit was juis ná ’n goeie skrum deur Peoples, op die doellyn van Laer Paarl, toe die Tiere se hardwerkende flank, Francois Julies, oor die doellyn is vir die eerste drie van die wedstryd. Dominique Daniels het dié drie verdoel. Die Tiere se vleuel, Jacques Lategan, het ná ’n sterk lopie die Tiere se tweede drie gaan druk. Die Tiere se derde drie is gedruk toe die skrumskakel, Harry Williams, die bal op die doellyn van Laer Paarl afgestorm het vir nóg ’n vyfpunter. Met die telling 21-0 in die guns van die Tiere, was die skrif teen die muur. Hoewel die reën hardlooprugby bemoeilik het, het die Tiere se losskakel, Dimitri Isaacz, sy span op die voorvoet gehou met goeie taktiese skopwerk. Hegte verdediging deur die agterspelers van Young Peoples het verder verhoed dat Blues enige momentum kon kry. Ná ’n goeie breekslag deur stut Chester Malherbe, is Peoples se senter, Lorenzo Jacobs, oor vir die Tiere se vierde drie. Blues se skrumskakel, Bjorn Kidd, was sy span se enigste puntemaker, met ’n strafdoel.
More
News
|