Groot gees oorlede
2009-10-01
Lise Beyers
FINANSIËLE probleme, moontlik weens die insinking van ’n plaaslike beleggingsmaatskappy het bygedra tot die dood van die bekende oud-atleet, televisie-persoonlikheid en potjiekos-koning, Andries Krogmann. Hy het verlede week, glo weens finansiële druk, sy eie lewe geneem. Krogmann se vrou, Karin, het verlede Woensdagaand op sy liggaam in die motorhuis van hul woning in Bo-Lady Grey-straat, Paarl, afgekom. Hy het homself gehang aan ’n dun nylon-lyn. Karin het vroeër die aand haar seun, Monty, gaan afsien by sy matriekafskeid by Hoërskool Gimnasium. Met haar terugkeer kon sy haar man nie in die huis vind nie, maar toe sy sy selfoon hoor lui het vanuit die garage, het sy op die gru-toneel afgekom. Karin het hom losgesny en noodbehandeling toegepas, maar hy was reeds dood. Sy het met ongeloof op die toneel vertel dat sy nie kon glo dat hy sy eie lewe geneem het nie, en dat hulle ’n baie gelukkige huwelik gehad het. Krogmann was in die week voor sy dood uiters neerslagtig oor sy benarde finansiële situasie, en die naam, King Finance, is dikwels aan sy vriende genoem. Dié firma ontken egter dat hy geld by hulle belê het. Vriende meen dat Krogmann waarskynlik gehoop het dat sy lewenspolis ná sy dood ’n redelike bedrag sal uitbetaal om die gesin uit die finansiële verknorsing te help. Alhoewel Krogmann in later jare bekendheid verwerf het vir sy deelname aan die gewilde televisieprogram, Maak- ’n-Las, waar hy behoorlik die potte geroer het, word hy beskou as een van die beste atlete wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Hy het met uiterste deursettingsvermoë uitgestyg van ’n minderbevoorregte jeug tot ’n wêreldklas-atleet. In die sewentiger jare het hy Springbok-kleure behaal in atletiek, waar hy uitgeblink het in lang afstande soos die 5000m en 10 000m. Hy het ook uitmuntende vertonings gelewer in veldloop en padwedlope. Voormalige teenstanders prys almal Krogmann se geweldige harde werk en deursettingsvermoë op die atletiekbaan. Alhoewel hy nie die vinnigste hardloper was nie, het sy harde werk en taktiek rekords laat spat. Krogmann is in 2006 met Karin getroud, nadat sy vrou Marcelle in 2002 oorlede is. Marcelle se dood is wyd gepubliseer, nadat sy ernstige brandwonde opgedoen het toe sy bewusteloos geraak het in ’n stort in ’n mediese kliniek in Kaapstad. Sy is weens komplikasies van haar beserings oorlede. Maar diegene wat vir Krogmann geken het, sal vir hom onthou vir sy ware vriendskap en gasvryheid. Sy deur was altyd oop en hy sou nooit ’n boemelaar laat wegdraai sonder iets warms om te eet nie. Hy word oorleef deur sy twee kinders Andri (19), Ferdinand (17), Karin en haar twee seuns, Monty (18) en Nico (17) Barnard. Krogmann is Dinsdag vanuit die Toringkerk begrawe, met talle bekendes soos Zak du Plessis en Wickus van der Merwe, wat van heinde en ver hul laaste hulde aan hom kom betoon het. * Well-known former athlete and TV personality Andries Krogmann, who died by his own hand last week, was buried on Tuesday.
More
News
|