Cultivaria fees groei steeds
2009-10-01
ONDANKS die ongure weerstoestande die afgelope naweek, asook die swak ekonomiese klimaat, is die organiseerders van die jaarlikse Cultivaria- kunstefees in hulle noppies na afloop van die vierde fees. Volgens feesdirekteur Gerhard Meyer, het die stand van verkope teen Saterdag reeds ’n 7% groei in bywoningsyfers getoon vergeleke met die vorige jaar. “Dit was absoluut bemoedigend dat soveel van die top produksies uitverkoop was - soos David Kramer, Nataniël en It Takes Two van Dozi en Nianell, Anna Davel, Coenie de Villiers en Chris Chameleon. “Die algemene besetting regoor die produksiespektrum was uiters bevredigend. Ek reken dis ’n bewys dat die Cultivaria-feesganger nog steeds bereid is om die hand in die sak te steek vir kwaliteit-produksies,” reken Meyer. Die Bovril langtafel is ook goed ondersteun met 850 sitplekke wat in Hoofstraat gedek is Woensdagaand. “Die Heinz Emporium en Bokomo Kombuis het deurentyd gegons en die stalletjies het fluks handel gedryf.” Vir die vierde agtereenvolgende jaar kan Cultivaria spog met ’n insident-vrye rekord danksy sigbare polisiëring en verkeersbeheer deur Drakenstein Munisipaliteit en private sekuriteitspersoneel. Die FNB Private Clients kunsroete het goeie aftrek gekry met etlike verkope van kunswerke. Feeskunstenaar Stephan Rautenbach se brons uil het ’n voortreflike R45 000 gehaal tydens die liefdadigheidsveiling ten bate van die feesbeursfonds. Die drie Chas Everitt erfenistoere wat gedurende die naweek aangebied is was telkens vol bespreek. Volgens Meyer het hulle weereens daarin geslaag met hulle doelwit om die Paarl en Drakenstein munisipale streek te posisioneer as ’n gehalte-toerismebestemming, wat in staat is om węreldklas-geleenthede suksesvol aan te bied. “In die aanloop na 2010 is dit ontsettend belangrik om die kollig op jou bestemming te laat val. Met vyf televisieprogamme wat die fees gedek het, kan ons waardevolle blootstelling verwag,” meen Meyer. * The Cultivaria festival shows growth.
More
News
|