Boland Krieket hakkel steeds oor verkiesing
2005-08-25
Leon Steenkamp
“HIER is mense wat net hulself dien. Dit is onaanvaarbaar dat ’n Unie soos Boland Krieketunie drie vergaderings moet reël om ’n bestuur te kies,” het die president van Wellington Krieketklub, Piet Hanekom, driftig laat hoor by die Unie se spesiale algemene jaarvergadering.
Krieketklubverteenwoordigers moes Vrydag vir die tweede keer gefrustreerd ’n spesiale algemene jaarvergadering verlaat nadat die verkiesing van ’n nuwe bestuur nie tot uitvoer kon kom nie.
Onsekerheid oor die geldigheid van die grondwet wat Boland Krieket tans gebruik, was die oorsaak dat die verkiesing nie tydens die amptelike algemene jaarvergadering drie weke gelede kon plaasvind nie.
Daar het dit aan die lig gekom dat die ’nuwe’ grondwet nooit amptelik tydens ’n grondwetlike vergadering deur die Bolandse krieketklubs aanvaar is nie, hoewel dit tydens ’n werkswinkel bespreek is.
Dit het die nominasie van Henry Paulse vir die presidentskap in die gedrang gebring.
Paulse, wat in 2003 as president van Boland Krieket uitgetree het, het verlede jaar ere-lidmaatskap van Boland Krieket ontvang.
Volgens die nuwe grondwet kan ’n ere-lid nie in ’n uitvoerende pos aangestel word. Maar met die nuwe grondwet wat nie van krag is nie, was Paulse se nominasie dus geldig.
Daar is gevolglik besluit om die vergadering uit te stel sodat klubs die nuwe grondwet onder oë kon kry en daar duidelikheid kon wees rakende die nominasie en verkiesing van die bestuur.
“Ons het vooraf ’n raadvergadering gehou en ooreengekom dat ons vanaand se vergadering klinies, steriel en skoon wil hou, sonder enige moddergooiery,” het dr Peter Cyster, president van die Boland Krieketraad, in sy verwelkoming gesê.
Cyster het verduidelik dat die nuwe grondwet by al die klubs gesirkuleer is, en dat daar net een wysiging was (om Boland Vrouekrieket verteenwoordiging te gee).
Voor die nuwe grondwet aanvaar kon word, het Paulse gevra of die volgorde van die vergadering korrek is.
“Die vorige vergadering is verdaag en nie gesluit nie. Moet ons nie daardie vergadering en die verkiesing eers afhandel nie, voordat ons die grondwet verander nie?” het Paulse gevra.
Cyster het dit benadruk dat die groot twispunt by die vorige vergadering die geldigheid van die grondwet was: “Kom ons kry eers nie nuwe grondwet in en gaan dan voort met die verkiesing,” het Cyster gesê.
Paulse was nie tevrede nie: “Ek wil dit op rekord hê dat ek ’n ongemaklikheid hiermee het, want dit is nie volgens prosedure nie,” het Paulse gereageer.
Visepresident Peter Ingwersen het vir Cyster gesteun: “Die grondwet moet eers die speelveld gelyk maak, en dan kan ons voortgaan met die verkiesing.”
Die verkiesingsbeampte Lloyd Fortuin het saamgestem: “Die latente defek in die vorige vergadering was die grondwet en dit moet eers reggestel word.”
Nadat die grondwet aanvaar en die nominasies voorgelees is, het Fortuin genoem dat van die voorstellers asook sekere sekondante nie gemeld het van watter klub hulle afkomstig is nie (’n voorsteller en sekondant mag nie van dieselfde affiliaat afkomstig wees nie).
Paulse het in antwoord hierop gesê dat dié klousule tydens die laaste vergadering “uitgekrap” is. “Ek wil voorstel dat ons teruggaan na die vorige vergadering. As ons volgens die nuwe grondwet werk, dan sal my nominasie nie meer geldig wees nie.
“Die huidige nominasies is by die vorige vergadering aanvaar. Hoekom kry ons nie ’n mandaat van die huis om nou te stem nie en hoor wat die huis te sê het,” het Paulse voorgestel.
’n Duidelik moedelose verteenwoordiger van Citrusdal Krieketklub het beklemtoon dat die nuwe grondwet nie verontagsaam kan word nie: “Dit maak nie sin dat ons ’n nuwe grondwet aanvaar, en dan volgens die ou grondwet wil stem nie.
“Kom ons verdaag en laat ons maar weer ry en kom stem, want môre, oormôre is iemand ongelukkig oor die verkiesingsproses en dan kan ons in die hof draai,” het hy gesê.
Paulse het egter gereageer met ’n pleidooi aan die vergadering: “Om te verhoed dat ons weer die verkiesing moet uitstel, beroep ek my op die mense hier. Laat ons die verkiesingsbeampte ’n mandaat gee om voort te gaan, met die nominasies soos voorgestel.”
Ingwersen het, met die grondwet in die hand, aangedring dat volgens dié dokument gehandel word.
Die vergadering het daarna besluit om 'n nuwe nominasielys op te stel en by 'n volgende vergadering die verkiesing te hou.
More
News
|