Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Geen verloor vir Wellington

Geen verloor vir Wellington
 
2005-08-25


DIE eerstespan van Wellington Rugbyklub het Vrydagaand sy onoorwonne seisoen met ’n hoogtepunt afgesluit toe hy vir Ceres 61-9 vernietig het.

Die tuisspan het met rustyd nog 9-7 voorgeloop nadat Wellington in die eerste helfte teen ’n sterk wind gespeel het.

In die tweede helfte het Ceres egter heeltemal uit die bus geval en het Wellington nege drieë ingeryg.

“Ja, dit was die eerste krieketwedstryd van die seisoen,” het ’n verheugde Dolf Stemmet, voorsitter van Wellington Rugbyklub, vandeesweek geskerts.

Volgens hom het Ceres deur telkens basiese foute te maak, hulself onder druk geplaas.

“Ek dink hul fiksheid is ’n groot probleem. As jy eers moeg is en begin foute maak, dan laai die druk op en dan maak jy nog foute,” het Stemmet Ceres, tradisioneel ’n groot krag in Boland klubrugby, se spel opgesom.

Die Boland-kampioene se drieë is almal deur die agterspelers Louw Schabord (2), Frankie Wium (2), Jacques Bosman (2), JD de Bruin, Bradlee Langenhoven en Mark Baine gedruk.

Die plaasvervanger-losskakel, Adolf Stoffberg (7) en Nickus Bergh was suksesvol met doelskoppe.

Die sege het egter teen ’n hoë prys gekom. Die Wellington-losskakel, Theuns Stoffberg, moes die veld verlaat weens ’n nekbesering.

Stoffberg het gisteroggend ’n operasie ondergaan om die kussinkies tussen sy nekwerwels weer reg te skuif en dit kan die einde van sy rugbyloopbaan beteken, sê Stemmet.

“Ons hoop maar dit is nie so erg nie.”

Stoffberg se besering los die Wellington-afrigters nou met ’n tameletjie rakende die losskakel-posisie vir die komende SuperSport Klubkampioenskappe wat van 11 tot 17 September op Stellenbosch gespeel word.

Adolf Stoffberg (geen familie van Theuns) het egter hom goed van sy taak gekwyt in Vrydag se stryd.

“In ’n gewone klubwedstryd kan jy dalk enige bedrewe agterspeler laat losskakel speel, maar die klubkampioenskappe is op ’n ander vlak,” het Stemmet gesê.

Adolf, ’n spesialis-losskakel, wat ses weke gelede vir Wellington begin speel het nadat hy van Noord-Wes na die Paarl verhuis het, kan in dié geval net die regte man wees.

Terselfdertyd het Wellington ook ’n heel bekwame nommer 10 in Nicus Bergh, wat in dié posisie speel vir Wellington se tweede span.

Die afrigters moes ook kopkrap rondom ’n plaasvervanger vir die slot Gerhard la Grange wat ook ’n operasie aan sy elmboog moet
ondergaan.

Slot is juis ’n posisie waar die klub maar sukkel met diepte.

Volgens Stemmet het die klub kapsie gemaak teen die feit dat die klubkampioenskappe op ’n Sondag begin.

“Ons voel dit is ’n rusdag en dag wat saam met die gesin deurgebring moet word,” het Stemmet verduidelik.

Hy het bygevoeg dat Jackie Abrahams, president van Boland Rugbyunie, die saak met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie opgeneem het.

Sestien spanne, insluitende die 14 rugbyprovinsies en twee agtergeblewe, sal aan die toernooi op Stellenbosch deelneem.

Die span is Janroux van Niekerk, Pieter Wium, Pieter Terblanche, Gideon Louw, Wynand Smit, Bennie Hawley, Frankie Horn, Nico Smit, Gordon Johnson, Adolf Stoffberg, Mark Bain, JD de Bruyn, Bradlee Langenhoven, Arthur Snyders, Louw Schabord, Pieter Krynauw, Ivan Munnik, Ross van der Merwe, Lourens Hugo, Will Hanekom, Lionel Hugo, Gareth Ranft, Nicus Bergh, Jean Taylor en Riaan Nel.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za