Ross word vereer
2009-10-01
SHIHAN Patrick Ross het pas die tweede hoogste karate-gradering verwerf vanaf Hayashi-Ha Shitoryu in Suid-Afrika. Met dié gradering word erkenning aan Ross verleen vir sy merkwaardige en volgehou uitbreiding van karate in Suid-Afrika oor die jare. Ross spog reeds met swart gordels in Shukokai Karate en Kobe Osaka Karate. Ross is die stigter van Hayashi-Ha Karate in die Wes-Kaap. Hy is een van die dryfvere agter die unifikasie van karate in die Boland sedert 1992. Volgens Ross is dit sy doelwit om karate-studente te leer van dissipline, respek, uithouvermoë en regverdigheid. “Karate gaan nie oor skop en slaan nie,” sê Ross. “Ek soek studente met vaste morele waardes. “Ek doen al vir veertig jaar karate en is dankbaar dat ek baie mense se lewens kon verryk.” Onder Ross se vaandel het verskeie studente al metnasionale kleure geskitter. Studente soos Christo en Charlton Ross, Celeste Adonis, Garth Morris, Emile Clayton, Dimitri Jacobs, Ayren Jonker, Etienne Marais en Sheila Panyeka, is ’n paar van die studente wat SA kampioene onder Ross se hand geword het. Eerskomende Oktober gaan daar ook vyf van Ross se studente Suid-Afrika verteenwoordig tydens die Karate Statebond-spele in Johannesburg. In 2008 het daar ook drie studente, Brent Jonker, Michael Frans en Dillan Smith, goud verower tydens die Karate Statebond-spele in Skotland. Nóg ’n karateka, John Solomon, is reeds 18 jaar ’n student by Ross. Volgens Ross is Solomon “Karate Boland se mees-suksesvolle afrigter”.
More
News
|