DIE oorlogsdrama “Môre is ’n Lang Dag” was verlede week in die Paarl ’n treffer op die planke, dekades nadat dit vir die eerste keer opslae gemaak het met Arnold Vosloo in die hoofrol as die skoorsoeker Lappies.
Die toneelstuk, uit die pen van Deon Opperman onder regie van Albert Maritz, is een van die skaars uitbeeldings van ’n klein grepie van ons eie Viëtnam.
’n Groepie Suid-Afrikaanse jong mans bevind hulle in die hartjie van die oorlog op die grens. In hierdie hutspot, is daar nie wegkruipplek nie.
Die troepe op ’n afgeleë weermagbasis is vasgevang tussen eindelose verveling, verlange na die “States” en interpersoonlike konfrontasie.
In die tent word die tyd verwyl met skaak, armdruk, radio luister en skoorsoek met mekaar. Lappies (’n kragtoer deur Sean Else) is ’n kapokhaantjie wat sy krag put uit die ondersteuning van sy swakkeling-maat Van (genuanseerd vertolk deur Jan-Hendrik Opperman) terwyl hy pik op die saggeaarde Kosie (treffend vertolk deur Willie Michaels) om die tyd om te kry.
Hy word teengegaan deur Christo (die sanger Robbie Wessels) en die “Engelsman” Neil (oortuigend vertolk deur Tauriq Jenkins).
Wessels toon sy staal as deurwinterde akteur in die rol van die boerseun met die sagte hart wat teensinnig gedwing word tot optrede teen die bullebak Lappies.
Else is deurentyd ’n dinamiese teenwoordigheid op die verhoog, die bose spil waarom die aksie draai - en die karakter wat uiteindelik sy maat Van onwillekeurig noop om kant te kies teen hom.
Uiteindelik handel die stuk nie soveel oor oorlog op die land se grense nie, as oor die oorlog wat elkeen op sy tuisfront moet voer en hoe hy sy krisisse hanteer.
Die veelrassige rolverdeling verseker ’n interessante her-interpretasie in ons hedendaagse tydvak.- Anne Kruger