Wag meer as 'n jaar vir swangerskaptoelae 2009-10-01
EK het einde Mei 2008 aansoek gedoen vir ’n swangerskapstoelae by die Departement van Arbeid in die Paarl waarop ons vroue geregtig is. My babaseuntjie is nou een jaar en twee maande oud en ek het tot verlede maand nog gesukkel om my geld te kry.
Elke keer was daar verskonings of moes ek lank oor die foon aanhou of niemand kom na jou terug nie.
In Oktober 2008 het ek met die hoof van die Paarl-kantoor, mev Leitch, gepraat en sy was baie gretig gewees dat Annelise du Toit vir my die besigheid afhandel. Sy het nog dieselfde dag teruggebel en blykbaar was daar ’n datum op die UI 19 vorm van 2004 nog uitstaande. Ek het die UI 19 laat deurstuur van my werkgewer se hoofkantoor se salarisafdeling dieselfde dag.
Op 20 Julie 2009 het mnr Germishuyzen van die Departement Arbeid se Paarl-tak my gekontak. Hy het weereens dieselfde informasie gevra en ek het dit gestuur.
Op 21 Julie het ek weer vir mnr Germishuizen geskakel en sy antwoord was dat alles nou reg, goedgekeur en op die sisteem is en dat dit na die Bellville-tak vir betaling aangestuur moet word. Die geld is egter eers, nadat die Paarl Post navraag gedoen het, op 10 September uitbetaal.