Verlede week se voorbladfoto misleidend 2009-10-01
MET ’n skok lees ek van die vandalisme in die Parys begraafplaas. Ek self het familie wat daar “rus”. Wat ek nie mee saamstem nie, is die voorbladfoto: die spesifieke grafte is beskadig deur ’n reuse-denneboom wat tydens ’n storm omgewaai is.
Ek was self ontsteld daardeur, omdat daar van my voorouers se grafte beskadig is, deur dié omgewaaide boom.
Die boom en ander wat ook beskadig was deur ’n storm, vroeër die winter, is deur die Munisipaliteit verwyder.
Ek is ingelig, deur die persoon in beheer van die begraafplase, mnr Cronjé, dat die munisipaliteit se versekeringsafdeling besig is om kwotasies te kry vir die herstel van die beskadigde grafstene. Hoe lank dit sou neem, kon hy my nie sê nie.
Ek stem saam dat die gemeenskap van Paarl moet saamstaan en met ’n plan van aksie vorendag kom om die laaste rusplekke van hulle geliefdes te beskerm en op te pas.
Tog voel ek dat dit nie regverdig is om ’n foto te plaas van beskadigde grafstene, as vandalisme nie daarvoor verantwoordelik was nie, maar wel ’n storm.