Boland blok WP
2005-08-25
’n KLIPHARDE spanpoging deur ’n vasberade Boland Kavaliers-span het Saterdag vir hulle ’n geskiedkundige 29-22 sege oor die Westelike Provinsie besorg.
Dit was die eerste keer sedert 1998 dat die span van Wellington die Streeptruie in ’n Curriebeker-kragmeting kon klop.
Die oorgeruste WP se wind is vroeg uit hul seile geneem toe die Boland na slegs 11 minute se spel 12-0 voorgeloop het. Die tuisspan se eerste drie was weer eens danksy die blitsige linkervleuel, Jongikhaya Nokwe.
Die WP het die Boland se kwartgebied aangeval, maar ’n harde laagvat op die WP-kaptein, Werner Greeff, het die bal laat losspat. Die Kavaliers het die bal opgepik en met ’n teenaanval begin. Toe die bal by Nokwe uitkom, het Boland-ondersteuners reeds tot in hul armholtes hoendervleis gekry en moes die WP-verdedigers geweet het - dis te laat.
Nokwe het ’n skoppie oor die kop van sy direkte teenstander, Egon Seconds, gegee, die bal weer met die voet bygekom, Seconds soos ’n slegte gewoonte agtergelaat, die bal opgepik en dit sonder moeite agter die kalklyn gaan druk.
Benewens Nokwe, wat in die tweede helfte weer gaan druk het, en ook ’n versekerde drie deur die WP-flank, Luke Watson, gekeer het deur die bal voor sy neus toe te val, het die heelagter, Renfred Dazel, ook vir opwindende spel gesorg.
Net soos sy spanmaat het Dazel ook iets laat gebeur sodra hy die bal in die hand gehad het.
Dit was egter voorlangs waar die Kavaliers die skare se harte gesteel het. Die Kavaliers, wat man vir man ligter was as die WP-pak, het met ongenaakbare verdediging en doeltreffende versekering van besit hul teenstanders behoorlik opdraande gegee.
Hoewel mens niemand wil uitsonder nie, het Kobus le Roux (flank) en Jaco Engels (stut) ’n barshou gespeel.
Die WP het beslis een van sy swakste vertonings nog dié seisoen gelewer, maar baie daarvan was die gevolg van die voortdurende druk wat die Boland op hulle gesit het.
Die WP kan hulself gelukkig ag dat die telbord hulle so vlei.
Twee vinnnige drieë in die laaste 10 minute deur die vleuel, Zhahier Ryland, het Kaapse span van ’n selfs groter loesing gered, as die Boland daarby ’n spesialis stelskopper gehad het wat die drie verbroude strafskoppe en ’n doelskop in punte kon omskep, sou dit die Wellingtonners van nog meer lekkerkry voorsien het.
Volgens die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, oefen die span se skoppers Charl Blom, Antonius Verhoeven, Renfred Dazel en Justin Peach hard aan hul skopwerk om dié probleem te bowe te kom.
“Justin is ’n baie goeie skopper, maar omdat die spelers so goed gespeel het, wou ons nie aan die begin vyftiental torring om hom ’n kans te gee om te begin nie,” het Pienaar gesê.
Dit is dus geen wonder dat die afrigter, Hawies Fourie, besluit het om sy span onveranderd te laat vir die naweek se kragmeting teen die Cheetahs in Bloemfontein nie.
“Ons het deurlopend die probleem om die Cheetahs te klop. Die spelers is vol selfvertroue, maar plat op die aarde. Hulle het wel iets om vir hulself te bewys en ’n oorwinning in Bloemfontein sal ons kanse om die halfeindstryd te haal ook baie vergemaklik,” het hy bygevoeg.
Die span is Renfred Dazel, Rayno Benjamin, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Jongikhaya Nokwe, Antonius Verhoeven, Charl Blom, Francois Prinsloo, Kobus le Roux, Angelo Brinkhuys, Henk Eksteen, David de Villiers, Tommy Dixon, Conrad Burke (k), en Jaco Engels.
More
News
|