Boschenmeer herwin met private verskaffer
2009-10-08
DIE groot planne van Drakenstein Munisipaliteit om Boschenmeer se inwoners die proefkonyne te maak wanneer dit by vullisherwinning kom, is vir eers op die lange baan geskuif. Die geld wat huiseienaars bykomend vir hierdie diens moes betaal om dit te implimenteer, het hulle van dié plan laat afsien. Intussen gaan hulle die herwinningsaksie met hul huidige diensverskaffer aanpak. Die projek gaan aan die begin van Oktober afskop. Karel van der Merwe, bestuurder van Boschenmeer, sê dat dit bloot ’n finansiële besluit was. “Ons sou substansieel meer betaal het. Ons is nie kwaad vir die Munisipaliteit nie, maar ons moet die beste beding vir ons inwoners. Vullisverwydering deur die private kontrakteur is tans by ons heffings ingesluit en kos heelwat minder as die gewone munisipale vullisverwyderingstarief,” sê hy. “Maar ons kyk elke jaar na ons kontrakte met ons diensverskaffers. Dit mag dalk gebeur dat die Munisipaliteit dit in die toekoms vir ons kan doen. “Ons neem wel die herwinning ernstig op en sal in Oktober daarmee afskop,” sê hy. Alles was intussen gereed dat die herwinningsaksie deur die Munisipaliteit daar sou uitrol, maar dit sal nou by ander gebiede plaasvind. “Ons beoog om by van die ander sekuriteitsontwikkelings soos by De Oude Renbaan met die projek te begin sodra ons herwinningsaanleg in volle werking is. “Akura is besig met die finale werk in dié verband,” sê May Carolissen, woordvoerder van Drakenstein Munisipaliteit. “Die situasie sal in die toekoms hersien word en is ook afhanklik wees van die Waste to Energy tender wat tans ondersoek word,” sê sy. Die herwinning by die komposmeul in die Paarl is in die finale toetsfase en sal na verwagting teen die einde van Desember afgehandel word. Geselekteerde afval sal dan daar gestort kan word word vir herwinning.
More
News
|