Kavaliers begin seisoen goed
2005-03-17
DIE Boland Kavaliers het die seisoen op ’n goeie noot begin toe hulle Vrydag die Poemas 34-20 (13-10) op Wellington geklop het.
Die Kavaliers het dan ook volpunte gekry danksy die vier drieë wat deur Warren Petersen (vleuel), Piet van Zyl (senter), Renfred Dazel (vleuel) en Henley du Plessis (agsteman) gedruk is.
Losskakel Solly Goosen se bydrae vir die dag was ’n doelskop en vier strafskoppe.
Hoewel die sege vir die Kavaliers ’n goeie begin tot die seisoen is, het die eerste helfte van Vrydag se kragmeting met hakke en stote begin.
Goosen se skopvoet het by tye gesukkel om die kol te vind, en die span in sy geheel het gesukkel om aan die gang te kom.
Sake het egter nader aan rustyd beter begin lyk en in die tweede helfte kon die tuisskare hul weer verlekker in die spel wat Boland opgedis het.
Een van die wedstryd-hoogtepunte was die hoekskop wat Goosen lug gegee het en wat netjies deur Dazel gevang is, waarna hy in die hoek oor is vir sy drie ala die Engelse drie teen Springbokke op Twickenham verlede jaar.
Twee veranderinge is aangebring aan die span wat Saterdag teen die Griekwas uitdraf. Jongikhaya Nokwe vervang Warren Petersen op linkervleuel, terwyl Gustav Rademeyer van sy besering herstel het en weer op haker sal sak. Dit beteken dat die kaptein, Conrad Burke, na flank verskuif in die plek van Frankie Horn wat op die plaasvervangerbank sy plek sal inneem.
Die hoofwedstryd begin om 16:00 op Boland Stadion met ’n voorwedstryd tussen die spanne van SA Magte en die Boland Subunies wat om 14:30 speel.
More
News
|