Fisikaprojekte wen medaljes
2009-10-08
LEERDERS uit die Drakensteinvallei het hul staal as ontluikende fisici getoon by die afgelope Nasionale Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes in Pretoria, en het medaljes vir hul innoverende wetenskapsprojekte ontvang. Die duo van Ra’ees Fredericks en Sean Manas van Ebenezer Primêr (graad sewe) is beloon met ’n silwer medalje vir hul gesamentlike projek oor die verwantskap tussen die kleur van lig en hitte-oordrag. Bridge House se Jessica Boyes (graad 9) het op haar beurt ’n brons medalje ontvang vir haar toets oor hoe swaartekrag en ’n stof se taaiklewerigheid die beweging van ’n albaster deur vloeistowwe beïnvloed. Albei inskrywings het in die junior fisikakategorie meegeding. Die groep Drakensteiners se navorsingswerk was onder die 20 projekte van leerders uit 17 skole in die Boland, Weskus en Swartland wat na afloop van die onlangse Stellenbosch-streekskompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes gekies is om die Stellenbosch-streek op nasionale vlak te verteenwoordig. Die groep is vergesel deur personeel van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe en die Instituut vir Wiskunde en Wetenskappe Onderrig (IWWOUS) in die Fakulteit Opvoedkunde. Die nasionale Eskom Expo is van 1 tot 3 Oktober in Pretoria gehou, en was die grootste byeenkoms van sy soort in Expo-geskiedenis. Agthonderd leerders uit 26 streke in Suid-Afrika het meer as 500 projekte ingeskryf vir die nasionale byeenkoms. Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes, wat vir graad 7 tot 12 leerders aangebied word, is ’n internasionaal-erkende organisasie waardeur leerders aangemoedig word om navorsing te doen. Leerders kry die kans om probleme te identifiseer, hipoteses te formuleer, data te versamel en te analiseer, afleidings te maak en om hul bevindinge effektief aan ander mense oor te dra.
More
News
|