Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Haaie se Gimmie-Yster

Haaie se Gimmie-Yster
 
2009-10-08

Jaco van Wyk

TWINTIG minute se eerste span-rugby, reg aan die einde van sy matriekjaar, is die krummels waarmee Chris Jordaan tevrede moes wees in die eerstespantrui van Hoërskool Gimnasium.

Deesdae is dié hardwerkende vleuel, met die gepaste bynaam Yster, een van die gevaarmanne van die Natal Haaie - dít nadat hy in sy o.19 jaar meestal vir die Seccies (tweede span) uitgedraf het.

So was Jordaan sedert sy o.14-rugbydae nooit regtig ’n A-span man nie, tot voordeel van die o.14 en o.15 C-spanne wat geseën was met sy dienste.

Volgens Jordaan het hy “seker maar laat ontwikkel”.

Hoewel Jordaan in sy matriekjaar duidelik nog nie sy volle potensiaal bereik het nie, kon die oud-WP afrigter, Alan Zondagh, eenvoudig nie die tweedespan-losskakel se vermoëns miskyk nie.

Zondagh, wat self ’n oud-Gimmie is en die Rugby Performance Centre (RPC) op Riebeek-Wes het, het vir Jordaan raakgesien tydens Gim se tweedespan interskolewedstryd teen Boishaai.

“Hoewel ek nie seker was wat sy beste posisie sou wees nie, het Jordaan definitief baie rugby in hom gehad,” sê Zondagh oor dié vlugvoetige agterspeler.

“Chris se hanteerwerk is baie goed, en so ook sy voetwerk. Boonop is sy bynaam nie verniet Yster nie, want hy is baie taai,” sê ’n trotse Zondagh.

Dit was genoeg oortuiging vir Zondagh, om vir Jordaan na sy sentrum te nooi.

Met groot rugby-unies wat deesdae belowende eerstespan-spelers op skole-vlak vroeg opraap, soek Zondagh manne met potensiaal, wat nie raakgesien is nie. Diegene word na die RPC genooi, en sedert dié sentrum se ontstaan in 2005, het RPC reeds 13 Curriebeker-spelers opgelewer.

Jordaan is uit die aard van die saak een van dié 13 spelers, wat in 2006, met sy aankoms in Durban, eers vir die klubspan College Rovers uitgedraf het, voordat hy sy provinsiale debuut gemaak het.

In 2007 het hy eerste span vir Rovers gespeel, waarna die Haaie verlede jaar ook nie meer Jordaan se talente kon miskyk nie. Sodoende het Jordaan in die Haaie se Curriebeker-groep beland.

Sy provinsiale debuut vir Haaie was in 2008 teen die Blou Bulle, waarna hy sy Super 12-buiging vanjaar teen die Hurricanes gemaak het.

Hoewel hy tans meestal op vleuel ingespan word by die Haaie, kan Jordaan amper in enige posisie in die agterlyn speel.

Jordaan erken egter dat hy sy oog op die nommer 15-trui van die Haaie het - ’n geskikte opvolger vir die veteraan-heelagter Stefan Terblanche.

“My skopwerk was nooit my sterkpunt op skool nie. Ek moes maar altyd die bal uit my eie 22 hardloop,” sê Jordaan.

“My klub-afrigters het egter gesê dat hulle my op heelagter sal laat speel as my skopwerk verbeter en deesdae het ek baie meer vertroue in my skopvermoëns,” sê Jordaan.

Jordaan het sy verbeterde skopvermoëns ten toon gestel, toe hy ’n reuse-skepdoel behaal het vir Rovers, tydens ’n onlangse klubkampioenskap-wedstryd.

Volgens Jordaan sal hy nie omgee om eendag vir WP te speel nie, “maar op die oomblik lê my lojaliteit by die Haaie.

“Die opset hier is ongelooflik professioneel en die mense is baie lekker,” se Jordaan.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za