Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Tsoenami op 'n Saterdag

Tsoenami op 'n Saterdag
 
2009-10-15

Winnie Rust

SATERDAGOGGEND op ’n Bolandse dorp. Vir die buitestaander, soos vir my Hollandse skoonseun, seker een van die kleurvolste, uitbundigste, maar terselfdertyd van die mees bisarre tonele in die ganse wêreld.

Die dag waarop die ganse spektrum van ons reënboognasie op die dorp toesak.

Die sypaadjies en strate wemel, nêrens is parkeerruimte te vind nie. Mense groet mekaar op straat, gil hoesit ou pêllie van die een kant van die straat na die ander kant. Die Bakoondjie is gepak van mense wat koek koop vir die naweek. By die bank staan die ry tot by die ingang na die parkeerruimte.

Predikers verkondig die Woord oor luidsprekers so groot soos doodkiste. Op stoepe van winkels gil musiek, enigiets van Loslappie na rock na gospel.

Smouse van ou klere, groente en vrugte pak sypaadjies vol. In parke sit mense eet.

Die totale 40 000 van Wellington se bevolking is op straat; altans, so voel dit vir my - vir baie ’n marteling van lang toue, ’n versmorende gevoel van oorbevolking; vir ander ’n gevoel van uitbundige ontlading en wedersiens.

Tot hier toe alles goed en wel. Dis ’n kwessie van hoe jy na so ’n Saterdagmôre op ’n Bolandse dorp kyk, ’n kwesse van perspektief. Behalwe vir die gemors agterna. Want dié raak ons almal.

Die tsoenami van rommel – papiersakke, houers, bottels en blikke, noem maar op – is iets onbeskryfliks.

Dit is ’n tsoenami wat op ’n Saterdagoggend oor die dorp spoel, en as dit terugtrek, dryf die verlate dorpse toneel ’n sensitiewe gemoed tot wanhoop.

Dit is ’n gemors wat ’n onnadenkende menigte agter laat vir ander om op te ruim, sodat die dorp vir die kerk- of verbyganger op ’n Sondagmôre nie iets afstootliks is nie.

Onlangs vergader ’n groepie mense in ’n koffiewinkel om oor ’n skoner Wellington te besin. Interessante en werkbare voorstelle kom na vore.

Indiwidue en instansies sal self verantwoordelikhied moet begin neem, hoor ons. Oor naweke, Saterdagmiddae en Sondagmôres, wanneer munisipale werkers nie werk nie, sal dit veral vrywilligers moet wees wat hulle dienste aanbied, soos wat daar inderdaad voorbeelde van is op naburige dorpe.

Indiwidue en veral sakeondernemings sal veel, veel meer moet doen. Hulle behoort dit prioriteit nommer een te maak om vir hulle eie terrein, maar ook vir die publieke terrein voor en agter hulle, te sorg.

Sakekamers moet dringend hieroor besin en besluite neem.

Opvoeding is natuurlik die finale antwoord - opvoeding in skole, kerke, indiensopleidingskursusse.

Maar opvoeding is ’n lang pad. Dit begin by ’n jonger geslag, en lewer dikwels eers resultate in ’n volgende geslag. Intussen is veel strenger reëls en polisiëring nodig.

My voorstel is dat groot sakeondernemings soos Pick n Pay, Shoprite en Spar, waar die meeste rommel akkumuleer, hulle terreine behoorlik polisieer.

Ontmoedig verpakking. As ek my ’n hemel voorstel, is dit ’n plek waar daar geen plastiekverpakking is nie – ’n plek waar groen komkommers en bone, rooi tamaties, spierwitte blomkole, blink eiervrugte, goudgeel wortels óóp lê. Hoekom moet byvoorbeeld ’n komkommer verpak word? Vir wegneem-etes bring elke ou sy eie bakkie, en jy kry jou kos dan veel goedkoper; selfs vir melk en koeldrank word daar ’n plan gemaak om eie houers te bevorder.

Ek kyk elke dag met leedwese hoe my eie vuilgoeddrom vol nuttelose afvalmateriaal lê; ongeklassifiseerde, onverteerbare afvalmateriaal wat iewers op ’n hoop gegooi word en ons astronomiese ekologiese probleme laat ophoop.

Saterdagoggende op ’n Bolandse dorp. Kleurvol, uitbundig, bisar. Maar die spoor wat dit agterlaat vernietigend en eindeloos neerdrukkend.

Die merk wat dit op mense se gemoed laat, die uitwerking wat dit op hulle algemene welstand het, moenie onderskat word nie.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za