OP Donderdag 8 Oktober omstreeks 09:15 was ek by die Paarl Welsynskantore.
My ma, ’n pensionaris, het ’n brief van die welsyn ontvang uit Pretoria om haar in te lig dat sy haar toelaag moes hernieu voor Oktober 2009.
By die kantore in die Paarl aangekom, het ek die meneer by die toonbank gevra waar die pensionarisse hul hernuwing moet doen.
Hy het gesê dat hulle pensioene slegs op ’n Vrydag hanteer.
Hy sê toe dat my ma eers huis toe moet gaan en weer Vrydag terug moet kom.
Ek het hom meegedeel dat ek spesiaal die tyd afgekry het vir die hernuwing omdat ek weet dat dit ’n lang wagproses is.
Ek het toe by mnr Jansen my storie verduidelik. Hy het my ’n vorm gegee om in te vul sodat hulle my ma tuis kon besoek.
Wat van ons arme bejaardes wat taxi’s moet vat dorp toe en dan moet omdraai om op Vrydae weer terug te kom om gehelp te word?
Waarom nie in die plaaslike koerante en op die gemeenskapsradio adverteer watter dae die verskillende toelaes gehanteer word nie?
Ek is net dankbaar dat dié wat nie in staat is om te loop nie, huisbesoeke kan ontvang van welsynsbeamptes.
Die BathoPele beginsels moet toegepas word.
SD Canham