Kurrikulum of Kerikilem - sal ons kinders eendag kan spel?
Kurrikulum of Kerikilem - sal ons kinders eendag kan spel? 2009-10-15
MET die bekendstelling van die (Hersiene) Nasionale Kurrikulum Verklaring (HNKV) was almal gaande oor die “nuwe” opvoedingstelsel.
Gou was opvoeders ontnugter oor die administratief-belaaide stelsel, wat meer skade as goed sou veroorsaak.
In ’n onlangse studie, deur die departement, is daar vasgestel dat opvoeders tot 60% van hul klastyd aan beplanning en administratiewe take spandeer.
Daagliks moet opvoeders aandag skenk aan GTA’s, HSO, WSP, CPTD, SACE, LA, LU, LO, ETDPC SETA, ACE, GGBS, PGP, NKV, SBL, IPET, TC’s, NPFTED, registers - en dit slegs vir ontbyt.
Die studie het voorts aan die lig gebring dat sowat 35% van die opvoeders in die Wes-Kaap buite hul studieveld onderrig - dit wil sê hulle onderrig vakke, oftewel leerareas, waarvan hulle baie min of feitlik geen kennis het nie.
By een skool in die Paarl moes ’n musiekopvoeder (hy het ’n BMus graad) Sosiale Wetenskap (die “ou” Aardrykskunde en Geskiedenis) onderrig, net om sy pos te kan behou.
Met die diskresie van die Direkteur van die Distrikskantoor word deskundiges gesekondeer om as vak/kurrikulum/leerarea-adviseurs te fungeer. Maar elke spesialis kom met sy eie voorskrifte en vereistes vir daardie leerarea. Dit verwar nie net die leerders en opvoeders nie, maar ook ons ouers.
By een werksessie het die adviseur die opvoeders belowe dat sy al die lesplanne vir die derde en vierde kwartaal vir vanjaar sou opstel en aan almal sou versprei. Dit was vyf maande gelede, maar steeds het daar nog niks gematerialiseer nie. Die vermoede is dat sy weer terug by haar skool is.
Baie adviseurs soek werkstukke as bewyse van akademiese vordering, maar kyk nie na die akademiese bystand verleen deur die opvoeder nie.
Baie opvoeders gaan buite hul opvoedingstaak om leerders die nodige bekwaamheid aan te leer. Opvoeders word dan gevra om hul professionele oordeel te gebruik om leerders te bevorder of “meer tyd” te gee.
Volgens nasionale voorskrifte is die ratio van opvoeder tot leerders 1:39 in die primêre skole en 1:35 vir sekondêre skole. Hierdie ratio word gemeet met die prinsipaal as deel van die opvoederstal.
Prinsipale word egter beskou as bestuurders van die instansie en tot 70% van die Paarlse skoolhoofde staan nie meer voor ’n klas om te onderrig nie. Dit is verstaanbaar, gesien al die verantwoordelikhede waarmee hy/sy opgesaal word om die skool te bestuur.
Dit veroorsaak dan dat sommige opvoeders met meer leerders per klas sit as die voorgeskrewe ratio. Baie skole sit met klasse van 50 en soos een opvoeder dit stel, doen hy meer “crowd control” as onderrig.
Ons “nuwe” onderwysstelsel is besig om ons kinders te faal. Ons is besig om kinders vir die arbeidsmark te kweek: hande-arbeiders. Ons kry leerders in graad 10 en 11 wat nog nie eens kan lees of skryf nie; leerders wat nie reg met ’n potlood kan skryf nie; leerders wat nie wiskunde kan doen nie; leerders wat nie reg tel of die alfabet kan opsê nie.
Maar om hierdie leerders “terug te hou” (druip) moet die opvoeder sowat nege vorms per leerder voltooi om te staaf waarom hy/sy nie mag vorder na die volgende graad nie. Dan is daar nog die intervensies wat herhaaldelik gedoen moet word om te bewys dat daar daadwerklik gepoog was om die leerder by te staan om te vorder.
Om al hierdie administratiewe vorms te vermy, stuur die opvoeder maar die leerder na die volgende graad, want “dan is hy/sy nou iemand anders se probleem”.
Elke jaar word die matriekuitslae “aangepas” sodat ’n groter persentasie matrikulante wel kan vorder.
In 2008 het slegs 45% van matrikulante wat Wiskunde geskryf het, geslaag en slegs 30% hiervan het meer as 50% behaal.
Sowat 75% van eerstejaars kan nie die mas opkom nie, deels omdat hulle akademies nie volwasse is nie.
Opvoeders wil onderrig en nie verswelg word deur administratiewe papierwerk nie. Onderwys is ’n roeping, nie ’n oefening in papierwerk nie.
Opvoeders verwag nie dat die departement alle administratiewe pligte moet wegneem nie, maar eerder verminder of bystand moet verleen. Laat ons opvoeders onderrig en nie administreer nie.
’n Goeie opvoeding is die steunpilaar van ’n gesonde, progressiewe nasie.Bekommerde opvoeder