DIE SMS kommentaar, “Die Cultivaria is nog steeds een groot boerebasaar” in Paarl Post op 8 Oktober, is afbrekend, onvanpas en moet ten sterkste veroordeel word in hierdie tyd van uitreiking en versoening.
Die skrywer is duidelik iemand met ’n eng denkwyse wat van die veronderstelling uitgaan dat indien dit nie in sy of haar eie agterplaas aangebied word nie, is hulle nie welkom nie.
Die fees word aangebied vir die hele Paarl gemeenskap ongeag geloof, ras of kleur en die kunstenaars word nie beperk tot ’n spesifieke bevolkingsgroep nie. Dit is elkeen se demokratiese reg om dit te ondersteun of nie.
As ’n inwoner, oos van die Bergrivier, het ek kennis geneem van die gemor en kritiek teenoor die fees deur ’n klein gemaksugtige deel van die gemeenskap, maar regverdig beslis nie die raskaart wat so gou uitgehaal word nie.
Indien die skrywer, en die vele ander wat dié sienswyse deel, die moeite gedoen het om van die vertonings wat in die verlede by die Strauss en Huguenot VGK kerksale aangebied was, by te woon, sou opgemerk gewees het dat dit baie swak deur die plaaslike gemeenskap in wie se ‘agterplaas’ dit aangebied was, ondersteun is en dat dit hoofsaaklik besoekers van elders was wat die vertonings bygewoon het.
Ek dink die organiseerders van die fees doen uistekende werk om die Paarl op hierdie wyse te bemark en plaaslike inwoners die geleentheid te gee om top vertonings in ons eie ‘agterplaas’ by te woon.
Hulle het selfs die Munisipaliteit so ver gekry om die dorp een keer per jaar behoorlik skoon te maak al is dit ook nou net langs die Hoofstraat en selfs die verkeersbeamptes uit hul lugverkoelde gemaksones laat kom om diens op ’n Saterdag te verrig (ek het regtig nie geweet dat die Paarl so baie van hulle in diens het nie).
Aan die skrywer van die SMS wil ek sê dat hy/sy die R1,50 wat die SMS gekos het aan ’n behoeftige organisasie kon geskenk het om sodoende ’n konstruktiewe en opbouende bydrae te lewer tot die Paarl gemeenskap.
Deur ras voor te hou indien jy uitgesluit voel sal jy en vele ander, nog lank ‘agtergeblewe’ bly en definitief nié die nuwe Suid-Afrika ten volle geniet nie.
Bruinman