Kaas is koning
2009-10-15
SUID-AFRIKAANSE kaas het stof in die oë geskop van 34 lande met 6 goud, 3 silwer en 5 brons medaljewenners by die węreld se grootste kaaskompetisie, die World Cheese Awards. Hierdie jaarlikse kompetisie wat deur die Verenigde Koninkryk se Gilde vir Fynproewerskos aangebied word, het hierdie jaar op 1 Oktober in Las Palmas op die Grand Kanarie-eiland plaasgevind. Dit was slegs die tweede keer in 21 jaar wat dit buite Engeland aangebied is. Fairview Landgoed Kaas in Suider-Paarl het goue medaljes vir hul veelbekroonde Roydon Camembert sowel as vir Blue Tower ontvang. Hulle het verder uitgeblink deurdat die Agri-Expo Trofee vir die beste Suid-Afrikaanse kaas tydens die prysoorhandigingsdinee aan hul Blue Tower toegeken is. Meer as 150 beoordelaars van 24 lande wat onder andere Suid-Afrika, Mexiko, Japan en Australië ingesluit het, het gedurende ’n marathon-beoordelingsessie 2440 kase sensories geëvalueer om medaljewenners aan te wys. Kobus Mulder, Bestuurder: Suiwel van Agri-Expo, was een van die genooide internasionale beoordelaars en is ook gekies as een van die 13 beoordelaars wat op die paneel van deskundiges gedien het om die Węreldkampioen uit die 15 beste kase aan te wys. Slegs 140 kase van oor die węreld het goud ontvang. Ander produsente wat goed gevaar het, is Dalewood, Parmalat SA, Healey’s, Pekelaar van Patensie, Lancewood Kaas, en Belnori Bokmelkkaas.
More
News
|