Kelders ryg goues in
2009-10-15
DRIE plaaslike kelders, Nederburg, Windmeul en Diemersfontein, het geskitter by die 2009 Veritas Toekennings-geleentheid wat Saterdag in Kaapstad gehou is. Dié drie kelders het elkeen twee dubbelgoue medaljes gewen. Nederburg spog met nog vyf goud en Windmeul met een goud. Spier Wyne het die septer geswaai vir 2009. Dié bekende wynmakery van Stellenbosch het vyf dubbelgoue en ’n halfdosyn goue medaljes verower. Uit ’n totaal van 1 728 inskrywings is 40 (2%) dubbelgoud, 109 (6%) goud, 444 (25%) silwer en 676 (39%) brons medaljes vanjaar toegeken. Nederburg se wynmakers, wat ook gereeld hul buiging op die Veritas verhoog maak, is vanjaar met dubbelgoud bekroon vir hul 2007 Semillon Noble Late Harvest Private Bin en 2007 Private Bin R181 Merlot. Diemersfontein se Carpe Diem Pinotage 2007 en hul versnitwyn Thokozani (SMV) 2008 het die hoogste eer ontvang. Dubbelgoud is toegeken aan Windmeul Kelder se Cape Blend 2008 en hul Pinotage Reserve 2008 (die enigste Pinotage wat ook in die Absa Top Tien was en wat boonop ’n Diamanttrofee by die Winemakers’ Choice Toekennings ontvang het).
More
News
|