Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hip-Hop leef in die Paarl

Hip-Hop leef in die Paarl
 
2005-09-01


HULLE is onbeskaamd Suid-Afrikaans, entoesiasties oor die Paarl en Hip-Hop kunstenaars van formaat.

Paarl Post het onlangs gesels met Miztah Naztaljah (Devlin Pietersen) en Yunique ‘Iyunstine’ Dachanell van die groep Diziplez of Stone (DOZ).

Die twee is nou besig met hul eerste CD, Beyond Xpektationz, op aandrang van hul bewonderaars en hoop om dit middel volgende jaar op die mark te hê.

Musiek is in hul are en hulle sing reeds sedert 1998 saam.

Hulle was eers sewe, maar een is oorlede en die ander lede het nuwe verantwoordelikhede.

Die twee jong manne wat oorgebly het, is egter vasberade om ’n loopbaan in die musiekbedryf te vestig en ook om Piraikz (Paarl/Drakenstein) se naam bekend te maak.

Miztah Naztaljah, Develin (21), was ongeveer 14 jaar oud toe hy na Hip-Hop begin luister.

Nou sing hy nie net, maar skryf self ook lirieke.

Yunique (26) het op 11-jarige ouderdom begin sing, eers R&B en later Hip-Hop.

Albei is oudleerders van Klein Nederburg Sekondêr. Behalwe lirieke, skryf die twee ook af en toe gedigte.

Op die oomblik is hulle nie voltyds musikante nie: Develin het ’n haarkappery by sy huis en Yunique, ’n opgeleide klankingenieur, werk by Radio KC. Hy het ook Vrydae tussen 18:00 en 21:00 ’n program oor Hip-Hop op die radio.

Baie tyd gaan natuurlik in die opneem van die CD.
Hulle werk met ’n ateljee in Kaapstad, maar die finale meng en produksie sal in Londen plaasvind.

Die CD, wat ook op DVD en video beskikbaar sal wees, het hoofsaaklik Engelse liedjies op, maar daar is ook Afrikaans, Xhosa, Zoeloe en Sotho.

Hulle het ook ’n spesiale video beskikbaar wat agtergrond gee oor die kunstenaars en ook die produksieproses.

“Hip-Hop is ’n soort gewete van die gemeenskap,” verduidelik Yunique.

“Ons sing oor oplossing van probleme, van teleurstellings en die liefde.

“Die grondslag van Hip-Hop is opvoeding en inligting en dit kan soms sterk polities wees.”

DOZ sing ook teen dwelms en onverantwoordelike seks.

Die twee sou eersdaags na Amerika vertrek het om by vier musiekfeeste op te tree, maar het besluit om dit op die lange baan te skuif en eers die CD te voltooi.

“Ons tyd sal kom,” sê Develin en Yunique voeg by: “Ons werk op ’n vyf jaar plan.”

En in dié tyd hoop hulle om ’n deurbraak in die internasionale mark te maak.

DOZ het vier ‘break’ dansers en ’n DJ wat saam met hulle optree. Nou soek hulle ook spelers vir ’n band.

Belangstellendes kan hul bestuurder, Sheila Nzele, skakel by 871-1438/9 of 073-250-2182.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za