DBV kry swaar
2009-10-15
SOOS wat die ekonomie vir Jan Alleman al hoe meer wurg, so ook word die Dierebeskermingsvereniging (DBV) erg geraak. Dit is algemeen bekend dat die DBV onbaatsugtige werk doen wanneer dit by diere kom, maar talle inwoners is onbewus dat hierdie vereniging slegs kan voortbestaan indien die publiek hulle harte en beursies oopmaak in die vorm van donasies. Hulle kry geen staatshulp nie, en wag steeds vir beloofde finansiële hulp van die Drakenstein Munisipaliteit, asook die Lotto. Tog doen die DBV wonderlike werk, meestal uit die publieke oog en dikwels wanneer talle inwoners slaap, 24 uur per dag en sewe dae per week! Personeel moet lang ure werk teen minimale vergoeding. Die twee amptelike voertuie van die Wellington DBV is oud met hoë onderhoudskostes, en die hondehokke, wat reeds te min is, het dringend onderhoudswerk nodig. Bo en behalwe normale werk van die Wellington DBV om lyding onder diere te voorkom, doen hulle ook belangrike werk in die gemeenskap in die vorm van opvoeding en gemeenskapsdiens, deur werklike behoeftige diere-eienaars by te staan met die kostes van sterilisasie, asook ’n weeklikse kliniekdiens op Dinsdagmiddae by die Weltevrede Sportgronde. Hier kan diere gebring word vir inentings, parasietbeheer, soos die dip van honde vir bosluise en vlooie asook ontwurming teen gesubsidieerde en bekostigbare fooie. Ongelukkig kos dit alles geld en die DBV met sy normale bedryfskostes, kon nie die brandstofprys en ander kostes wat ook aan prysstygings onderworpe is, vryspring nie. Dus is die DBV ook ’n slagoffer van die huidige ekonomiese insinking en het nou ’n stadium bereik waar beskikbare fondse eenvoudig opgedroog het. Die Wellington DBV doen dus ’n ernstige beroep op alle diereliefhebbers om hulle in staat te stel om ons viervoetige vriende nie in die steek te laat nie en om die DBV se hand te sterk om met hul goeie werk voort te gaan. Die hoofinspekteur van die Wellington DBV, Chris Theron, kan gekontak word by 021-864-3726 of 082-958-8155.
More
News
|