Bewaringsliggaam opponeer ontwikkelingsplanne
2009-10-15
DIE provinsiale bewaringsliggaam Heritage Western Cape (HWC) het ’n versoek gerig tot die Stellenbosse Munisipaliteit om die proses om die Huguenot Hotel perseel op Franschhoek te herontwikkel, te staak. In ’n brief van HWC aan Ian Kenned, munisipale bestuurder van Stellenbosch, word hy versoek om die goedkeuringsproses te staak in afwagting van ’n amptelike ondersoek deur HWC en die SA Erfenishulpbron-owerheid (Sahra), volgens ’n berig in die Franschhoek Tatler. Die hotel is in Januarie vanjaar platgeslaan met die oog op herontwikkeling van die perseel as Franschhoek Square deur Robert Maingard. Dit is gevolg deur ’n groot protesvergadering van sowat 250 mense in die Franschhoekse stadsaal in Februarie, waar kommer uitgespreek is oor die grootskaalse uitbreiding op die dorp, wat plaasvind sonder oorhoofse beplanning of publieke deelname, en gevolglike parkeerprobleme. Daar is onder meer gesê dat ondergrondse parkering deel van enige toekomstige ontwikkeling moet wees, en gevra dat die karakter van die dorp bewaar moet word. Ná die vergadering is ’n petisie met 300 handtekeninge by die Stellenbosch Munisipaliteit ingedien van mense wat beswaar maak teen die gebrek aan publieke deelname in die ontwikkeling. Gevolglik het die hoof van beplanning by Stellenbosch, Marx Mupariwa, aangedui dat ’n publieke deelnameproses gevolg sou word. Die stadsraad het egter hierdie besluit ongedaan gemaak, nadat Maingard geappelleer het. Die Franschhoek Trust, met ondersteuning van die belastingbetalersvereniging en die Franschhoek-Wes inwonersvereniging, het daarna aan die Munisipaliteit uitgewys dat bewaringsliggame in die ontwikkeling geken moet word.
More
News
|