Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bevindings oor brand by Paarl Print eersdaags bekend

Bevindings oor brand by Paarl Print eersdaags bekend
 
2009-10-15


n AMPTELIKE verklaring oor die forensiese bevindings van die oorsaak van die brand by Paarl Print word Maandag verwag.

Hoewel werknemers beweer het dat hulle gas op die perseel geruik het in die twee dae voor die brand, het die forensiese ondersoek glo aangedui dat gas nie die oorsaak van die brand was nie.

Die maatskappy het vandeesweek in ’n verklaring bevestig dat twee van die fabriek se buitedeure gesluit was toe die brand, waarin elf mense op 17 April vanjaar gesterf het, daar uitgebreek het.

Die verklaring is gemaak in reaksie op persberigte waarin beweer is dat die sterftes tydens die brand te wyte was aan die sluit van deure, om diefstal van persplate uit die drukpers te bekamp. Daar is ook beweer dat daar die afgelope sewe jaar geen brandoefeninge was nie.

Volgens Stephen van der Walt, hoof van Paarl Media, was slegs twee van die 18 deure van die fabriek gesluit, en hierdie deure se sleutels het langs die deure gehang.

Werkers beweer egter hulle was onbewus van die sleutels, omdat brandoefeninge nie gehou is nie.

Volgens Van der Walt het die deure buitentoe oopgemaak op ongebruikte en onbeskermde spoorlynareas en is hulle gesluit om die veiligheid van die werkers te verseker.

Die ander deure was bewaak deur wagte van ’n onafhanklike sekuriteitsfirma.

“Ontruimingsprosedures was aan die personeel bekend en is van tyd tot tyd geoefen.”

Op klagtes dat die vergoeding uit die hulpfonds nog nie uitbetaal is aan beseerdes en oorledenes se families nie, reageer Van der Walt as volg: “Paarl Print het onmiddellik R10 000 aan elke familie uitbetaal, asook R10 000 vir begrafniskoste van oorledenes.

’n Voordeel gelykstaande aan een maal jaarlikse vergoedings is ook reeds in Junie aan alle naasbestaandes betaal.

“Die Derdepartyfonds, waartoe die publiek kon bydra, het R1,4 miljoen beloop en betaal maandeliks bedrae aan die gesinne van die oorledenes en beseerdes wat in die hospitaal was, totdat die fondse opgebruik is. Sowat 80% daarvan is reeds uitbetaal.

“Paarl Print het alle werknemers bygestaan met die eise vir ongeluksdekking en doodsdekking uit die maatskappy se pensioenfonds waar toepaslik.

“Die aandeelhouers van die firma het ook vrywillig bygedra tot ’n trustfonds om die afhanklikes wat geraak is, by te staan en langtermyn finansiële stabiliteit vir die gesinne van oorledenes, en mediese behandeling van beseerdes, te verseker.”

’n Onafhanklike aktuaris is aangestel om die regverdige besteding van die trustfonds te verseker en betaling sal binne die volgende twee weke plaasvind.

Oor klagtes dat die seleksiekriteria met die onlangse afleggings tydens die herstruktureringsproses geïgnoreer is, sê Van der Walt dat die maatskappy alle salarisse vir drie maande ná die brand gedra het.

“Toe dit duidelik word dat nog 12 maande benodig sou word om die besigheid te herbou, is besluit om slegs die kernvaardighede te behou. Daarom is 191 werknemers behou met volle betaling totdat die besigheid weer heeltemal operasioneel sal wees.

“’n Formele proses is gevolg met die aflegging van 180 mense (41 van hulle het vrywillige pakkette aanvaar), met die klem op vaardighede en jare diens asook swart bemagtiging, in samewerking met die vakbond.

“Die verskuiwing van die Paarl Web aanleg na Kaapstad, waar dit sal amalgameer met Paarl Gravure, het verseker dat Paarl Print op Paarl Web se perseel hervestig kan word binne 12 maande, pleks van 24 maande.”

Paarl Web sal teen April volgende jaar na Kaapstad verskuif (onderhandelings oor die afleggings duur tans voort) en ’n nuwe fabriek open in Kwazulu-Natal in Julie.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za